Sarel Kruger

Sarel Jacobus Kruger (1888 - 1977)

Privacy Level: Open (White)
Sarel Jacobus Kruger
Born in Heidelbergmap
Ancestors ancestors
Husband of — married [date unknown] [location unknown]
Descendants descendants
Died in Potchefstroommap
Profile last modified 23 Aug 2019 | Created 29 Dec 2014
This page has been accessed 594 times.

Biography

Sarel Jacobus is gebore in 1888 in Heidelberg. Sy ouers was besig om te trek van Barkley Oos na die Waterberge. Interessante inligting is oor hom geskryf deur Belia van der Merwe in Barry Kruger[1] se boek. Hy sterf in 1977 in Potchefstroom.[2]

Die volgende geskiedenis is nagevors en saamgestel deur Belia van der Merwe (Booyens-104):[3]

Hendrik Gerhardus KRUGER (Kruger-1222) en Johanna Maria PRETORIUS (Pretorius-5512) se seun Petrus Kruger (Kruger-1239) is blykbaar op ’n jong ouderdom oorlede. Hoe oud hy presies was, is nie bekend nie, maar hy was met die uitbreek van die Anglo-Boereoorlog reeds oorlede. In die laat tagtigerjare van die negentiende eeu trek die Kruger-gesin met twee (drie) jong kinders vanaf Barkly-Oos in die Oos-Kaap na die Transvaal. Johanna Maria Kruger is blykbaar ten tyde van die trek swanger met hulle vierde kind. Wat die motief vir hierdie verskuiwing was, is (nog nie) bekend nie. Moontlik het die ontdekking van goud aan die Witwatersrand en die goudstormloop net daarna, ’n rol gespeel. Hendrik Gerhardus (Kruger-1222) was boonop een van 12 kinders (met twee ouer en drie jonger broers), so daar was dalk nie plaas- of erfgrond vir hom nie. Hoe lank die trek vanaf Barkly-Oos na Transvaal geduur het, weet ’n mens nie, maar Hendrik en Johanna se jongste kind (Sarel Jacobus Kruger-1221) word op 7 Februarie 1888 in Heidelberg Transvaal gebore terwyl hulle daar met hul trek oorstaan. Die gesin gaan vestig hulle in die Waterberg-omgewing, nie ver van die huidige Nylstroom op die plaas Boschoek en Sarel Jacobus word op 21 Oktober 1888 in die Gereformeerde Kerk Waterberg gedoop. Hy kry sy pa se oudste broer (Kruger-1242) se name, (wat ook die name is van sy ouma aan moederskant se pa): Sarel Jacobus KRUGER (Kruger-1221).

Die doopinskrywing van Sarel Jacobus Kruger in die register van die Gereformeerde Kerk Waterberg is aangeheg. Die doopgetuies was Hendrik Gerhardus Kruger en Petronella Wilhelmina Christina Pretorius, sy grootouers aan vaderskant. Dit lyk dus of laasgenoemde óf die trek vergesel het óf later, nadat hulle seun en sy gesin in die Waterberg-distrik gevestig was, hulle besoek het. Die vroegste blanke nedersetting in die Waterbergse gebied het min of meer in die jaar 1850 op die plaas Tweefontein plaasgevind. In die jare 1850/60 het nog ʼn paar families hulle in die streek gevestig.

Skoolopleiding Sarel Jacobus KRUGER ontvang skoolopleiding by twee plaasskole, maar dit is nie bekend tot watter standerd hy gevorder het nie. Agter op ʼn foto van ʼn bejaarde man en klein dogtertjie skryf hy self die volgende: “Oupa Willem Pretorius (ʼn oom van oupa Piet Pretorius) ik het by hulle gebly en skool gegaan op Rietpoort wes van Nylstroom. Hy was in Bloedrivier se slag, hy het 104 jaar oud geword”. Waarskynlik verwys Sarel hier na sy eerste skoolonderrig voor die uitbreek van die oorlog. Op ‘n lys van onderwysers in diens van die ZAR teen die einde van 1898 word ʼn D.J. Gaarkeuken genoem as die onderwyser van die Rietpoort-skool. Sy kwalifikasie word aangegee as IIIe klas. (Martins, 1957:56). Hy was na alle waarskynlikheid die jong Sarel se onderwyser.

Na die oorlog gaan Sarel weer skool. Sy Rekenkundeboek – Longman’s Junior School Arithmetic, mental and practical (regs) het behoue gebly, asook ʼn Engelse Nuwe Testament wat hy in 1904, op sestienjarige ouderdom van ʼn onderwyser gekry het. Die plek waar die skool was, word aangedui as Tweefontein. Die onderwyser wie se naam in die boekie verskyn, is L.G.M. Wegerif wat voor die oorlog in diens was by die Elandsfonteinskool. (Martins, 1957:56).

Die Anglo-Boere-oorlog Soos die meeste inwoners van die destydse ZAR spring Hendrik Kruger en sy gesin nie die ellende van die Anglo-Boereoorlog vry nie. Volgens Martins (1957:56) het dieselfde toestande wat tydens die oorlog orals in die ZAR geheers het ook in die distrik Waterberg geheers. Skole het opgehou om te bestaan, want elke beskikbare weerbare burger was op die slagveld, terwyl die vrouens en kinders weggevoer is na die konsentrasiekampe. Daar was ʼn konsentrasiekamp te Nylstroom, maar dié is later verskuif na Irene.

In Maart en April 1901 het die Britse magte die Waterberg-gebied al met die spoorlyn langs binnegedring tot in Soutpansberg. Kitchener se verwoestingsbeleid elders in die land was toe al bekend en die meeste boere van Waterberg het gesorg dat die vroue, kinders en ou mense dieper die Bosveld intrek. Vroue het met hul vee en swaargelaaide waens voortgetrek en verskillende laers gevorm, maar hulle is die een na die ander deur die Engelse oorrompel. Sarel Kruger se ma, Johanna Maria en waarskynlik sy suster, die 15 jarige Johanna Dorothea, was van die vrouens en kinders wat hierdie lot te beurt geval het. Of en hoe ver hulle gevlug het, is nie duidelik nie, maar op 25 Julie 1901 is Johanna ’n ooggetuie toe die Britse troepe hulle swaargelaaide wa op die plaas Boschoek aan die brand steek “on which was loaded tobacco, corn, mealies, one tent and furniture” (Dit kom uit haar verklaring as deel van Hendrik Gerhardus se kompensasie-eis na die oorlog). Volgens die meubels wat op die wa was, byvoorbeeld beddens, ’n tafel en 8 stoele (uiteengesit in die Compensation Claim) lyk dit asof hulle oorval is voordat hulle met die wa kon vlug. Die plaashuis op Boschoek in die Waterberg-distrik, is toe ook afgebrand – Burnt at Boschoek on 25/7/01 by British troops.

Waarskynlik is Johanna en haar dogter toe aanvanklik, soos al die Waterbergvrouens en kinders, Nylstroom toe geneem waar die Britte sedert 1 Junie 1901 ’n konsentrasiekamp bedryf het. Hierdie kamp onder die hoofskap van kaptein Henry Cooke was opgeslaan op die destydse oop plein tussen die Gereformeerde Kerk en die Braksloot, wes-suid-wes van die spoorwegstasie.

Ds. JA van Rooy was die Gereformeerde predikant van Nylstroom (Waterberg) van 1898-1905. Hy het aanvanklik sy beangste gemeentelede probeer gerusstel “Nieteenstaande allerlei skrikaanjagende gerugte oor die handelswijs van die naderende Britse troepe was mij antwoord: ‘Hulle is tog beskaafde mense en Kristene oor algemeen net soos ons…Ik wis toe nog nie dat mij ei’e vrouw en kinders met andere saam in ’n stortbui op ’n volgepakte perretruk moes opklouter met Irene kamp als bestemming. Hoe beskaamd moes ik agterna uitkom!”

Nadat genl. Beyers op 23 Januarie 1902 die Pietersburg konsentrasiekamp aangeval en 150 burgers bevry het, het die Engelse besluit om die Pietersburg- en Nylstroom-konsentrasiekampe na Irene naby Pretoria te verskuif. Daar is aan die einde van Maart 1902 met hierdie verskuiwing begin. Van hierdie nagmerrie-rit in oop treintrokke in die koue gietende reën het Johanna Maria haar kleindogter jare later vertel. Johanna Maria en haar dogter oorleef hul aanhouding in die konsentrasiekampe en keer na die vredesluiting terug na hul verwoeste plaas Boschoek in die Waterbergdistrik.

Toe die oorlog op 11 Oktober 1899 uitbreek, is Sarel Jakobus Kruger (gebore 7 Februarie 1888), nog nie 12 jaar oud nie en sy ouer broer, Hendrik Gerhardus (gebore 30 Januarie 1882) is byna 18. Jare later sou Sarel aan een van sy kleinseuns vertel dat hy kon kies of hy saam met sy ma en suster na die konsentrasiekamp wou gaan of saam met sy pa en sy ouer broer op kommando. Vir ’n avontuurlustige jong plaasseun was dit seker nie ’n moeilike keuse nie en Sarel is saam op kommando.

Kommandant Marthinus P. van Staden was sedert die begin van 1900 die aanvoerder van die Waterberg-kommando. Onder leiding van genl. Beyers neem Van Staden en sy kommando aan talle veldslae deel en bly hulle tot die einde van die oorlog aktief. Later sou Sarel van sy oorlogservarings met sy kleinkinders deel. Een van hulle, ook ’n Hendrik Gerhardus Kruger, onthou veral twee staaltjies. By geleentheid het die Engelse die Waterbergers se kommando verras en toe die skote begin klap het hulle perde op loop gesit. Sarel se perd het egter op sy dringende fluit gereageer en na hom toe gekom. So kon hy vinniger wegkom. By ’n ander geleentheid het hulle ’n Britse trein aangeval en die lokomotief so geskiet dat water en stoom uitgeblaas het. Was laasgenoemde dalk op 4 Julie 1901 toe genl. Beyers en die kommando’s onder hom ’n soldatetrein naby Naboomspruit gebuit het?

Sarel se pa en broer doen albei na die oorlog aansoek om vergoeding vir verliese gely tydens die oorlog. Hendrik Gerhardus Kruger dien ’n eis in van £280 en daar word £25 aan hom toegestaan. Van die £156.18 wat sy seun Hendrik Gerhardus eis, ontvang hy £35. Aangeheg by Hendrik Gerhardus sr. se eis is ook twee fakture vir goedere wat die Boere van hom gekoop het. Dit is geteken deur Kommandant M.P. van Staden. Sarel is nog te jonk om enige vergoeding te eis, maar hy is darem met ’n medalje beloon vir sy deelname aan die oorlog. Hierdie medalje staan algemeen bekend as die Anglo-Boereoorlog Medalje en is toegeken aan Boere offisiere en manskappe van die ZAR en Oranje Vrystaat wat tot 31 Mei 1902 in diens was sonder om oor te gee of die eed van getrouheid aan Brittanje af te lê.

Hendrik Gerhardus Kruger en sy vrou Johanna trek later weg van Boschoek in die Nylstroom-omgewing na die Springbokvlakte en vestig hulle op die plaas De Hoop. Hier bedryf hy hoofsaaklik saai- en beesboerdery. De Hoop lê oos van Bela-Bela (Warmbad) en noord-oos van Settlers.

Hendrik Kruger, was ʼn prominente figuur in die Gereformeerde kerklewe in die eerste dekades van die vorige eeu. Toe Totius op 26 Augustus 1903 op Nylstroom met Maria (Marie) Postma, jongste dogter van ds. Dirk Postma, trou, is Hendrik Kruger een van die bruilofsgaste wat op die troufoto verskyn. Hier staan hy heel regs op die foto. In die “Eeufeesgedenkalbum van die Gereformeerde Kerke in die klassis Waterberg 1859-1959” word daar saam met ʼn foto van hom, sy vrou, sy jongste seun en ʼn kleindogter ook ʼn berig oor sy betrokkenheid by die kerk gepubliseer: “Hendrik Gerhardus Kruger, gebore 2 April 1862, oorlede 18 Julie 1943 en sy gade, Johanna Maria Pretorius, gebore 27 Julie 1863, oorlede 11 April 1934, en hul jongste seun Sarel, en kleindogter Johanna Viljoen. Die gesin Kruger het in die tagtiger jare vanaf Barkly-Oos per ossewa na Transvaal getrek en woon sedert 1883 in Waterberg. As ouderling het hy gedien vanaf 1907 tot 1911 en toe weer van 1917 tot 1925 in die gemeente Waterberg.

Na die stigting van Potgietersrus se Kerk, het hy weer aldaar gedien as ouderling. Gedurende die tyd wat die gesin op Nylstroom gewoon het, het hy en sy gade besonder baie hulp aan ds. J.P. van der Walt bewys, sowel voor sy troue as daarna. As enigste ouderling van die dorp moes hulle baie kerklike verantwoordelikhede dra – soos die bewaring, na die vertrek van ds. M. Postma, van “de trommel met boeken en papieren” en die versorging van die kerk-muile en kerkkar, terwyl die familie een kamer van hul woning moes verhuur ten dienste van die ongetroude leraar, teen £1 per maand. Sarel. op die foto, is vandag die geseënde vader van mev. (ds.) D.C.S. van der Merwe en die teologiese student H.G. Kruger.”

Twee foute in bogenoemde berig is Hendrik Gerhardus se geboortedatum en die jaar wat die gesin hulle in Waterberg gevestig het. Volgens Hendrik Gerhardus se doopinskrywing is hy op 2 April 1863 gebore en op 9 Augustus 1863 gedoop. Sy en Johanna Maria se oudste drie kinders (gebore in 1882,1883 en 1886) is almal in die Gereformeerde Kerk Barkly-Oos gedoop. Hulle jongste kind, Sarel Jacobus is op 7 Februarie 1888 in Heidelberg gebore en op 21 Oktober 1888 in die Gereformeerde Kerk Waterberg gedoop. Dus was die gesin nog nie in 1883 in Waterberg nie. Dit is waarskynlik blote skryffoute.

Die jare na die oorlog Na die oorlog gaan Sarel Jacobus Kruger weer skool. Hy het egter ook tyd om sy hand aan houtwerk, waarmee hy klaarblyklik heel knap was, te waag. Die plaashuis en meubels is alles vernietig en verbrand en van vloerplanke maak hy vir sy ma onder andere ʼn mooi ronde tafeltjie en kassie waarin sy haar klere kon bêre. ’n 8-Sitplek eetkamertafel met greinhoutblad en tambotiepote wat Sarel ook in die jare na die oorlog gemaak het, het ook behoue gebly. Op 'n foto van 'n tafel wat hy gemaak het en opgelaai is kan die verskillende soorte hout wat hy gebruik het, mooi gesien word.

Lid van die Suid-Afrikaanse Berede Skutters (South African Mounted Riflemen) Die Suid-Afrikaanse Polisiediens het sy oorsprong in die jare na die Anglo-Boereoorlog. Voor die oorlog het elke republiek of kolonie sy eie stelsel van wetstoepassing gehad. Teen die einde van 1911 word die polisiedienste wat toe bestaan het, geherstruktureer en in twee magte verdeel, naamlik die Suid-Afrikaanse Polisie en die Suid-Afrikaanse Berede Skutters (Mounted Riflemen). Laasgenoemde se pligte word omskryf as “a regular militar force with police duties during times of peace, especially in Black areas. ”In 1911 het genl. Hertzog as minister van Justisie die Polisie-wetsontwerp ter tafel gelê en in Desember 1913 word magtiging gegee vir die oprigting van ʼn Polisiemag. Iewers in die jare 1911 tot 1913 sluit Sarel Jacobus Kruger by die polisie se berede-afdeling aan. Die jong man wat skaars tien jaar gelede as patriotiese en lojale burger die wapen opgeneem het om sy land teen Groot Brittanje te verdedig, tree nou in diens van die “oorwinnaar” téén van sy eertydse kamerade. Hy sou nou weer, soos in die Anglo-Boereoorlog, saam met genl. Smuts veg, vir wie hy groot bewondering gehad het.

Foto’s uit hierdie tyd toon ʼn skraal jongman met ʼn weglê snor. Hierbo sit hy derde van links fier en regop as lid van die berede polisie op sy perd, geklee in volle uniform. Op ʼn ander foto sit en eet hy saam met kollegas in ʼn oop tent. Dit is duidelik dat hulle, waarskynlik na ʼn harde dag, van hul uniforms ontslae geraak het. By dié foto is geskryf: “Staking 1914 by die Cashing myn”.

Nadat die Eerste Wêreldoorlog einde Julie 1914 uitgebreek het, onderneem genl. Louis Botha, Eerste Minister van die Unie van Suid-Afrika om die Duitse kolonie, Duits-Wes-Afrika vir Groot Brittanje te beset. Baie burgers van die voormalige ZAR en Oranje Vrystaat verset hulle hierteen en dit gee aanleiding tot die Rebellie van 1914. Sarel het as deel van die Unietroepe, aan die inval in Duitswes deelgeneem.

Die volgende medaljes word na afloop van die Eerste Wêreldoorlog aan Sarel Jacobus Kruger toegeken. Links is die 1914-1915-Ster met agter op die volgende inskripsie: RFM S.J. Kruger 4th S.A.M.R. In die middel is die Britse oorlogmedalje. Die Oorwinningsmedalje (Victory medal) regs is toegeken aan almal wat die ander twee ontvang het. Saam met sy Anglo-Boereoorlog-medalje het Sarel toe ook vir Pip, Squeak and Wilfred, soos hierdie drie medaljes in die omgangstaal bekend gestaan het. Hulle is vernoem na die karaktertjies van ’n strokiesprent wat van 1919 tot 1956 in die Britse Daily Mirror verskyn het.

Dit is nie bekend hoe lank Sarel lid van die polisie was nie. Hy het die volgende staaltjie uit hierdie tyd in sy lewe met sy kinders gedeel. Hy was op Boons gestasioneer en hulle moes te perd rondtes doen om te verneem of daar op die plase klagtes is. Dit was maar vermoeiend en soms het dit tot 2 weke geduur voordat hulle weer terug was. Eenkeer het hy by ʼn plaas aangekom net toe die mense wou aansit vir middagete. Hulle nooi hom om saam te eet en toe die ete verby is, vra hy vir die gasvrou wat dit kos. “Nee,” antwoord sy ewe vroom “as Christen mag ek nie aan my naaste kos verkoop nie, maar gee maar vir daardie dogter van my ʼn halfkroon.”

ʼn Mooi ateljeefoto van ʼn fier en regop Sarel in die polisie se formele uitstapdrag is deur ʼn fotograaf, B.P. Alser van Rustenburg geneem. Hierdie foto, so wel as ʼn kop-en-bolyf foto is duidelik by dieselfde geleentheid en teen dieselfde beskilderde agtergrond geneem. Hy poseer langs ʼn deftige stoel en met sy een arm op ʼn hoë tafeltjie. Agter op een van die foto’s het hy geskryf: To miss Ellie J. Henrico Krugerskraal. With best wishes. From Sarel Kruger, De Hoop. Niemand weet vandag meer wie hierdie Ellie Henrico was nie. Enkele familiefoto’s uit hierdie jare het behoue gebly.

Die jong dame van Upington Een besonderse gebeurtenis in Sarel se polisiedae het ʼn groot impak op sy lewe gehad. ʼn Vriend wat saam met hom in die polisie was, het met ʼn jong dame van sy tuisdorp, Upington, gekorrespondeer. Toe hierdie vriend baie ernstig siek word, vra hy vir Sarel om vir sy vriendin in Upington daarvan te skryf en ook te verduidelik waarom hy nie haar briewe kan beantwoord nie. Dit was die begin van ʼn ernstige korrespondensie tussen Sarel en die jong dame, Barendina Frederika Nel.

Drie kaartjies wat Sarel aan haar gestuur het, het bewaar gebly. Dit is tipiese poskaarte van daardie tyd met ʼn sentimentele prentjie op die voorkant en plek om ʼn boodskap te skryf op die keersy. Die korrespondensie tussen die twee het waarskynlik in 1914/1915 begin. Barendina Frederika (noemnaam Bennie) verjaar op die 4de Oktober en Sarel sorg dat hy die kaartjie met verjaarsdagwense vroeg genoeg stuur sodat sy dit op of voor haar verjaarsdag sal kry. Op die voorkant bo ʼn romantiese prentjie staan gedruk: Fond Birthday greetings to you. Another year – another sign – to show forever I am thine. Agterop spreek hy haar aan as My dearest darling, maar die verjaarsdagwens is in die Hollands van destyds: Ontvangen myn beste hartelyke wenschen, op de dag uwer verjaring, en moge uwe begeerte in alles ver vuld worden naar uw wenschen in deze als ook der te meer in de toekomende tyd. en wenschre u ook een lengte van gelukige jaren van harte toe. Die datum wat hy regs bo skryf, is 21.9.1915 en die adres is: Miss Bennie Nel, Nel’s Rust, P/o Upington, Cape province.

Een van die ander kaartjies vertoon ʼn paartjie in omhelsing en die woorde: From thy dear lips to take a kiss,/ Would crown my dreams of earthly bliss;/ I’d clasp thee to my loving heart,/ And from such sweetness never part! Agter op die kaartjie skryf hy ʼn Hollandse versie (moontlik sy eie skepping?): Hoe vermaaklyk zyn myn dagen / als ik dikwyls by u zou zyn / vry van droefheid en klagen / zonder kommer, zorg of pyn. Aan Miss Bennie Nel van Sarel Kruger.

Agter op die derde poskaart wat hy aan haar gestuur het, het hy roerend geskryf (waarskynlik ʼn aangehaalde gediggie): (1) Die bloemtjes is wel sierlyk / waarmeede de lente pryk / maar mooier is myn liefste / geen blom is haar gelyk (2) Die sterretjes blink wel lieflyk / verkwik my menig keer / Maar myn liefste haar bruin oogjes / verkwik my nog meer (3) De vogeltjes zing zoo lieflyk / zoo vroolyk en zoo bly / Maar mooier zingt myn liefste / geen vogel zingt als sy (4) Myn vrienden is my dierbaar / ‘t familie is nog veel waard / maar ik verkies myn liefste / boven elken vriend op aard.

ʼn Vreemde troue Dit is nie bekend hoe lank Sarel in die polisiediens was nie, maar hy het blykbaar voor 1917 die diens verlaat en gaan boer. Die jaar 1917 word later deur beide sy kinders aangedui as die jaar waarin hy met Barendina Frederika Nel getroud is, maar van die presiese datum is niemand seker nie. Volgens die egpaar se dogter was dit waarskynlik in Oktober 1917.

Die korrespondensie tussen Sarel Kruger van Transvaal en Bennie Nel van Upington het dus uiteindelik op ʼn huwelik uitgeloop. Volgens sy seun het Sarel darem ʼn keer of wat vir haar in Upington gaan kuier, “seker om ouers te vra”. Volgens familieoorlewering kom Bennie Nel in Oktober 1917 (?) per trein na Pretoria waar Sarel haar op die stasie ontmoet. Hier trou die twee “voor ʼn landdros”, nogal ʼn ongewone stap vir daardie tyd. Dis ook vreemd dat hulle teen ʼn tradisionele huweliksbevestiging in ʼn kerk besluit, veral as ʼn mens in ag neem hoe ʼn prominente figuur Sarel se pa in die Gereformeerde Kerk Waterberg was. Die bruid en bruidegom is egter albei 29 jaar oud en kon hulle eie besluite neem.

Daar bestaan geen dokumentêre bewys of foto’s van hierdie huwelik nie. Dit is vreemd, want ʼn hele paar foto’s waarop Sarel en Bennie afsonderlik in die jare voor hul huwelik afgeneem is, het behoue gebly. Dit is net so vreemd dat Bennie eers vroeg in 1919, vier maande voor die geboorte van haar eersteling, ʼn lidmaat word van die Gereformeerde Kerk. In die kerkraadsnotule van 4 April 1919 staan daar: “Met bewijs van lidmaatschap tot ons overgekomen uit de Neder Duits Hervormde of Gereformeerde Gemeente te Upington Barendina Fredrika Nel”.

Hier eindig die inligting van Belia van der Merwe (Booyens-104), Navorsing oor Oupa Sarel Kruger se familiegeskiedenis.

Jan Kruger (Kruger-1233) gee die volgende bykomende inligting: "Oupa Sarel het n spaanse donkie in die Engelse oorlog gery. Sover ek onthou was die voorval waar die perde oploop gegaan het tydens die Duits-wes inval. E k meen die perd se naam was Kopbeen.

Die troue in landros kantoor kan te wyte wees aan die gevoel tussen Sap en rebel na 1914. Waterberg was meen ek meer rebels gesind dit kan dalk verklaar waarom hulle nie in 1917 in die kerk wou trou nie, omdat oupa Sarel 'n Smuts ondersteuner/Sap was."[4]

Sarel se tweede huwelik was met Catherina Elizabeth Krige (ouma Babes). Alhoewel sy Engelsprekend was, het sy altyd trots vertel dat een van haar oupas 'n 'n Boere generaal in die oorlog was (as ek reg onthou - Kruger-1216).

Sarel Kruger is in Pieterburg begrawe.[5]

This profile is a collaborative work-in-progress. Can you contribute information or sources?

Sources

  1. Gert Kruger 17 June 2015. Bron: Barry Kruger, Die Kruger-familie van Suider Afrika, 2007 (die boek is verkrygbaar by http://www.krugerfam.com/.
  2. Gert Kruger 17 June 2015. Bron: SAF CD v20, Koch-Ky, p657.
  3. Gert Kruger 17 June 2015. Bron: Kruger familiegeskiedenis nagevors deur Belia van der Merwe (Booyens-104).
  4. Gert Kruger 17 June 2015. Bron: Inligting soos onthou deur Jan Kruger (Kruger-1233).
  5. Gert Kruger 17 June 2015. Bron: Inligting soos onthou deur Gert Kruger (Kruger-1216).



See also:






More Genealogy Tools



Sponsored Search




Is Sarel your ancestor? Please don't go away!
 star icon Login to collaborate, or
 star icon ask our community of genealogists a question.
Sponsored Search by Ancestry.com

DNA
No known carriers of Sarel's DNA have taken a DNA test.

Have you taken a DNA test? If so, login to add it. If not, see our friends at Ancestry DNA.

Sarel is 31 degrees from Lizzie Griffiths, 32 degrees from Fred Rogers and 20 degrees from Henry VIII of England on our single family tree. Login to find your connection.

K  >  Kruger  >  Sarel Jacobus Kruger