Location: [unknown]
Herinneringe van ‘n Oud-Krygsgevangene op St. Helena Deur I.J Minnaar Tydens die Anglo-Boereoorlog (1899-1902) is ongeveer 32 000 Boere krygsgevange geneem en na plekke soos Ceylon, Bermuda, St. Helena, Indië en Portugal geneem. Die kampe in Suid-Afrika, nl. Groenpunt, Ladysmith, Umbilo en Simonstad is hoofsaaklik as deurgangskampe gebruik. Teen die einde van 1900 was die kampe in St. Helena en Ceylon vol en op 2 April 1901 het die eerste groep van 512 krygsgevangenes na Ahmednagar vertrek, ‘n Britse kantonment in Indië. St. Helena is ‘n geïsoleerde eiland wat dit die perfekte aanhou plek vir die Boere krygsgevangenes gemaak het. Juis so dat ongeveer 5000 krygsgevangenes na die eiland gestuur is tydens die Anglo-Boere Oorlog. Min weet van die onsekerheid en wanhoop, die jong seun wat doodgeskiet is, die humoristiese briewe wat die soldate so boos gemaak het en van die krygsgevangenes se eie blikkiesdorp. Hier volg die roerende herinneringe van een van dié krygsgevangenes. Begin Mei in 1900 het die Engelse transportskip Lake Erie uit Tafelbaai na St. Helena koers gevat met 1100 Boere-krygsgevangenes aan boord. Onder hulle was die ongelukkige manne wat aan die begin van die worstelstryd deur die groot oormag van die vyand by Elandslaagte tot oorgawe gedwing was en toe reeds ses maande op die Penelope in Simonsbaai op vervoergeleentheid na St. Helena gewag het. Die gevangenes op die Penelope het bestaan uit feitelik die hele personeel van die Departement van Mynwese in Johannesburg. Daar was ook ‘n groot aantal posbeamptes - o.w. D Tromp, Lourens, Stiemens, O. Raaff en R. Ueckermann - en verskeie verteenwoordigers van die Speurdiens, manne soos F. Roome, W.Parker, Waldeck, F. Penn en Bekker. Verder was daar kapt. Versewil de Witt Hamer met sy dapper Hollanders en Duitsers, en die onverskrokke Skandinawiërs, wat genl. Wauchope op 11 Desember 1899 die verpletterende nederlaag by Magersfontein besorg het.
Onder die 1100 krygsgevangenes aan boord was teenwoordiges van byna al die
nasies van die wêreld, want behalwe die Boere was daar Duitsers, Hollanders, Franse,
Jode, Skandinawiërs, Grieke, Iere, een Litauer en een St. Heleen, en dan natuurlik
nog die Engelse bemanning en wagte. Die verwarring van tale op die skip het ‘n mens
so ‘n flou begrip gegee van wat die spraakverwarring van Babel moes gewees het.
Die oorgrote meerderheid van die Boere het nog nooit ‘n seereis onderneem nie en
was dus maar skrikkerig vir die soutwater. Wat die reis vir hulle nog onaangenamer
gemaak het, was die feit dat hulle dit onder dwang doen. Hulle was ver van huis en
haard, ontstoke van die voorreg om verder hul deel by te dra tot die verdediging van
die land en volk. Geen wonder dat daar neerslagtigheid onder die Transvalers en
Vrystaters geheers het nie. Tot oormaat van ramp het dit ook nie lank geduur nie of
seesiekte breek onder die klomp manne uit. Alle middels is aangewend om dit te keer,
en baie soutvis, lemoene en biltong is geëet, maar niks wou baat nie. Na die derde
dag het dit egter beter gegaan, want die see het bedaar en die golwe nie meer tot op
die dek geslaan nie. Toe die see op sy hoogste was, het een ou oom ons darem baie
laat lag met sy noodkreet: “Ag, vadertjie, die ryery deur die ouland kan ek nie meer
staan nie!” Verskeie ander wat gemeen het dat hulle nooit weer land sou sien nie, het
hul laaste testament gemaak.
Die folterings van die slapelose nagte wat ons in die hangmatte moes verduur, is
onbeskryflik, want die skip het letterlik gewemel van die walglike klein diertjies wat
slaap onmoontlik maak. Dit was ‘n gekrap, ‘n gesug en ‘n gesteun die hele nag deur.
Die plaag was so erg op die skip dat ons met die opskep van die middagete - wat
gewoonlik uit soutvleis en ertjiesop bestaan het - dadelik moes wegval daaraan, of
anders kry ons van die ongenooide gaste uit die plafon in ons kos!
Dat soldate lief is om te dobbel, waar hulle hulself ook al bevind, het ons aan boord ‘n
sprekende bewys van gevind, want die goeters wat vir ons so walglik en afstotend
was, is deur die soldate soos opregte resiesperde getroetel en geliefkoos. Elke dag
het hulle onder groot opgewondenheid in een hoek van die dek gewed op die
viervoetige diertjies. Elke deelnemer het sy gunsteling, wat hy uit sy hempsmou
gehaal het, op ‘n plank gesit, sy sjieling of meer op sy “perd” gewed en die wedren het
‘n aanvang geneem.
Die geswets en geskreeu van die opgewonde toeskouers was oorverdowend. Na die
wedrenne is die verskillende “perde” weer met die grootste sorg in die hempsmou
weggebere, om die volgende dag weer op die baan te kan verskyn.
Soos alle reisigers weet, word die dek van ‘n skip elke more geskrop, en dan dit dan
baie glad is, spreek vanself. Op ‘n goeie more het een van ons manne genaamd
Holder op die dek gegly net nadat dit geskrop was en op die naat van sy rug te lande
gekom. Iemand wat dit gesien het, het uitgeroep “Holder!” en dadelik het die uitroep
weerklank gevind tot in die onderste ruimte van die skip, sodat dit uit honderde kele
opgeklink “Holder!” Die oom was verskriklik vererg hieroor, maar die koeël was deur
die kerk, en tot aan die vrede het ons die oorlogskreet “Holder!” behou.
Daar was ook aan boord ‘n seker Engelse offisier, ‘n kaptein Kyle, wat digterlike talent
besit het, en hy het vir ons die “Boer Prisoner’s Prayer” geskryf, wat op musiek gesit
is deur John Schuman, ‘n komponis wat hom ook op die skip bevind het. Ironies om
te dink dat twee vyande die lied vir ons geskep het!
Soos reeds gesê, was daar onder ons geledere baie Hollanders, Duitsers en
Skandinawiërs, meer as een waarvan ‘n bekwame seevaarder was, en ons was nie
lank op see nie of ‘n komplot is gesmee om die skip te verower en koers te vat na
Suid-Amerika. Die offisiere is gekies uit die buitelanders, terwyl die Boere sou dien as
stokers, seemanne ens. Ons plan om na Suid-Amerika te gaan en daarvandaan met
‘n Amerikaanse skip na Lourenço Marques te vaar om in Transvaal weer aan die
worstelstryd te kan deelneem. Dat die plan uitvoerbaar was, ly nie die minste twyfel
nie, want die koers wat ons sou inslaan, sou ons ver van die vaste skeepsroetes voer,
en in daardie dae was daar nog geen draadloos nie. Al die voorbereidings is getref
en die offisiere benoem. Die plan was dat ses van ons manne op ‘n bepaalde tyd
elkeen ‘n gesprek sou aanknoop met een van die ses soldate op wag op die brug.
Sodra die klok tienuur slaan, sou hulle die soldate onverwags aanval en ontwapen, en
met die ses gewere sou die Engelse offisiere dan tot oorgawe gedwing word. Groot
was die inspanning onder die samesweerders, maar helaas! Ons het ‘n verraaier in
ons midde gehad wat ‘n dag voor die vasgestelde tyd alles aan die Engelse gaan
verklap het. Wat ‘n rumoer was dit nie toe die soldate, ten volle gewapen, die ruim
binnestorm waarin ons ons bevind het! Al die voorbokke is in boeie geslaan en onder
in die donkerste dele van die skip opgesluit. Die verraaier was ook onder bewaking
geplaas, want hy was van daardie oomblik af nie sy lewe seker nie. Onder die soldate
was daar baie Iere, en hulle was warme simpatiseerders met ons, soos later geblyk
het.
Op die more van die agste dag toe ons deur die patryspoorte kyk, gewaar ons dat ons
in ‘n baai geanker lê. Ek is nie by magte om die gedagtes te beskryf wat hulle van my
meester gemaak het by die aanblik van die kaal rots wat hom duisend voet uit die se
verhef nie. Sover die oog kon sien, het die rots geen gras of boom vertoon nie, en die
algemene mening was dat geen lewende dier daar kon bestaan nie. Hier sou die
Boere, wat hulself altyd vryelik op die uitgestrekte vlaktes van hul vaderland kon
beweeg, ingekamp en afgehok word! En hoeveel van hulle sou nie ‘n eensame graf
op die verlate eiland vind nie? Hierdie en dergelike gedagtes was genoeg om die hart
van die krygsgevangenes ineen te laat krimp, maar hulle het nie hul vertroue in die
Here verloor nie en het geweet dat Hy op Sy bestemde tyd uitkoms en verlossing sou
bring.
Agt dae lank het ons in die baai onder kwarantyn gelê voordat ons toegelaat is om
aan wal te gaan. Op die tweede dag wat ons in die baai was, het ons ‘n skuitjie die
skip sien nader, en wat was die vreugde toe ons verneem dat dit ds. J. Albertyn en sy
eggenote (‘n dogter van wyle ds. Adriaan Louw van die Paarl) was wat ons kom
besoek. Hy was baie hartlik verwelkom aan boord, en ons het hom gou alles vertel
van die reis op die skip van Kaapstad na St. Helena. Hy het ons op sy beurt vertel
van genl. Piet Cronjé en sy ongelukkige manskappe wat hulself by Paardeberg moes
oorgee. Die besoek was uiters kort, maar nietemin kon die ou vader nog ‘n
inspirerende kort rede hou en ‘n ernstige gebed opstuur, waarna Transvaler en
Vrystater uit volle bors “Ruwe stormen mogen woede” aangehef het.
Hoera! Ons is weer op vaste grond, al is dit dan nie Suid-Afrikaanse bodem nie. Menig
sug van dankbaarheid het ons geslaak dat ons eindelik verlos was van die bedompige
skip met sy krioelende viervoetige diertjies en soutvleis en ertjiesoep wat ons aldag
voorgesit was.
Voordat jy kon sê knipmes was ons by ons landing omring deur soldate en
verwaarloosde St. Helena-kinderjies, sommige waarvan nog skaars kon praat.
Laasgenoemdes het egter na ons gewys en op hulle manier gesê Bo, Bo (Boer).
Bagasie het ons nie veel gehad nie, maar tog was daar muiltransport om ons aardse
skatte na die plek van ons bestemming, Deadwood - kamp, te neem.
“Fall in!” het die bevel skielik opgeklink, en vier-vier het ons deur die hoofstad,
Jamestown, met sy een nou straatjie geloop. Feitlik die hele bevolking van die eiland
was in die straat om ons te aanskou, maar tot hul eer moet ek sê dat hulle baie meer
beskaafd was as menigeen in Van Riebeeck se stad, want in plegtige stilte het hulle
die opmars van die krygsgevangenes aanskou. Stadig het die lang ry manne langs
die kronkelende pad, wat deur Chinese slawe gemaak is, na die top van die berg
geloop. Dat dit ‘n meesterstuk van die ingenieurskuns is, is ongetwyfeld, want dit is
langs die berghelling uitgekap en aan die hang is ‘n vaste klipmuur opgebou wat die
bewondering afdwing van almal wat dit sien.
Op ons tog na bo het ons verby ‘n turksvylaning geloop. Dit was een van die klein
rooietjies - meer dorings as kos. Een van die pas ingevoerde soldaat vra aan ‘n jong
penkop wat dit is. Sonder om te blik op te bloos, antwoord laasgenoemde dat dit ‘n
soort wildevy is. Die soldaat vra of dit eetbaar is, en die jong penkop knik bevestigend.
Dadelik bestorm die soldate die laning, pluk van die turksvye en steek dit huid en haar
in hul mond. Maar, mense, waar was julle! Taal soos daar toe losgebrand het, het ek
nog min in my lewe gehoor. Onder al die lawaai en rumoer het ‘n ou oom die seun
wat die soldate die poets gebak het, ernstig berispe en hom gemaan om nie kwaad
met kwaad te vergeld nie.
Langs die kronkelpad kon ons in die verte die grafte sien van die Chinese slawe wat
op die eiland omgekom het. Tot ons verbasing het ons ook uit een van die klowe vier
bale gras sien beweeg wat nader aan ons toe kom. Toe dit nader kom, sien ons dat
dit twee esels is, aan elkeen waarvan weerskante ‘n groot baal gras hang. Weens die
steilte van die paaie is pak-esels die enigste vervoermiddel op die eiland.
Toe ons eindelik uit die bedompige Jamestown wegkom, was ons verwondering baie
groot. Ons het verwag om bo op die berg ‘n dorre, kaal vulkanies rots sonder bome,
gras of water aan te tref. In plaas daarvan het ons nou die aller pragtigste natuurtonele
gesien wat ‘n mens jou maar kan voorstel. Bosryke klowe, sub-tropiese vrugte,
uitgestrekte dennewoude en kabbelende waterstroompies het die oog en oor begroet.
Verder het ons plate vlas gesien en hellings oordek met ‘n sagte groen tapyt. By elke
huis waar ons verbygegaan het, was daar ‘n tuintjie met groente en blomme in volle
drag. Soos een ou oom tereg gesê het: “Waarlik, dit laat mens terugdink aan
Barberton.” Dat dit ons laat watertand het om trosse piesangs en dadels te sien, is
verstaanbaar. Onder ons was daar ‘n vegetariër wat na hartelus gekou het aan die
sagte grashalmpies wat hy langs die pad uitgetrek het. Hier en daar het ‘n Engelse
fisant met sy pragtige pluime opgevlieg, en baie verfrissend was dit om weer die
gekoer van tortelduiwe te hoor. Die pragtige natuurtoneel het ‘n goeie uitwerking op
ons mense gehad, want dit het die spookgestalte van ‘n dorre rots, wat ons so baie
nagmerries op die skip besorg het, laat verdwyn.
Die vermoeiende bergklimmery het minstens drie uur geduur voordat ons uiteindelik
bo op die plato by “Binders Corner” aangekom het. Daarvandaan het dit beter gegaan,
want die pad was nou gelyk. Hiervandaan kon ons in die verte die geskiedkundige
groot wit huis op Longwood sien waarin Napoleon sy laaste lewensjare gesluit het.
Toe ons by Longwood aankom, kon ons weer daarvandaan in die verte die wit tente
van die kamp sien waarin ons bestem was om ons intrek te neem. Hoe nader ons
aan die plek gekom het, hoe meer opgewonde het die manne geword, want baie het
bekendes en ook familielede in die kamp gehad, burgers wat op Paardeberg met genl.
Cronjé gevang was.
Met ‘n paar uur son het ons voor ons tronk te staan gekom. Dit het bestaan uit ‘n groot
kamp met doringdraad-omheining en daarbinne die tente. Voor die hek het die
kampkommandant, kol. Evans, met enkele van sy offisiere, o.w. sersant-majoor
Skirving, gestaan om ons in ontvangs te neem. Binne in die kamp was ‘n opgewonde
menigte om ons welkom te heet en die jongste nuus te verneem. Menige hartroerende
tonele het daardie dag daar plaasgevind, want daar is vader met seun verenig en
broer met broer of het ‘n ou veteraan van sy distrik sy mense ontmoet, alleen om te
verneem dat sy vrou die tydelike met die ewige verwissel het. Daar het trane van
blydskap maar ook trane van droefheid gevloei.
Sers.maj. Skirving (“Snelvuur”, soos hy baie gou verdoop is), met sy eg militêre
houding en Skotse presiesheid, het gou ‘n end gemaak aan hierdie hartlike en
hartroerende ontmoeting en die bevel gegee dat die nuwe aankomeling onder mekaar
moes reël wie by wie in die tente sou woon, want vir iedere twaalf man was daar ‘n
ronde tent aangewys. Die tente was reeds opgeslaan en het op hul okkupeerders
gewag. Twaalf man in een klein ronde tentjie! En dit met die ewigdurende motreëntjie
wat rondom die tente altyd ‘n modderpoel laat staan het. Hoe ons in sulke
omstandighede gesond sou bly en ons goeie humeur sou bewaar was meer as wat
ons kon begryp. Die tegemoetkoming dat ons self ons tent-metgeselle kon kies, het
baie daartoe bygedra om die moeilikheid op te los, want sodoende het
Potchefstromers by Potchefstromers, Heidelbergers by Heidelbergers, Duitsers by
Duitsers, Hollanders by Hollanders ens. in die verskillende tente gekom.
Elke tent van twaalf man moes ‘n voorman kies, en die bewoners van elke twintig
tente, dus 240 man, ‘n lyn kaptein. Die plig van die voorman was om toe te sien dat
alles ordentlik geskied, en verder moes hy sorg vir die rantsoenuitdeling onder die
twaalf stuks in sy tent. Die lyn-kaptein was weer verantwoording verskuldig aan
“Snelvuur”, by wie hy alle klagtes moes indien, asook aansoeke om klere, skoene ens.
Elkeen van ons het drie kakiekomberse en ‘n seiltjie ontvang (want ons moes op die
harde grond slap), ‘n konka wat as vuurherd moes dien, ‘n kookpot (ook vir koffie), ‘n
mes, vurk, lepel en ‘n groot kommetjie.
Nou het die moeilikheid ontstaan hoe om die tentjie in twaalf te verdeel. Wie sal by
die deur lê en wie nie? Na heelwat geharwar is uiteindelik ook hierdie moeilikheid
opgelos, en toe die aandskemering toesak, weerklink die lieflike klanke van psalms en
gesange deur die stilte. Aangrypend mooi het die gewyde klanke van “Rust mijn ziel,
uw God is Koning”, “Ruwe stormen mogen woeden”, “Hoe lieflijk, hoe vol heilgenot”
ens. Daar in die aandlug opgestyg. En aldeur maar het die soldate op wag buite die
helderverligte kamp uitgeroep: “Halt! Who goes there?” (Tussen hakies wil ek hier sê
dat die kamp saans deur middel van lampolie-installasies verlig is wat baie skerp lig
gegee het.)
Die volgende more vroeg het die beul geblaas vir die “Roll Call”, iets wat elke more
plaasgevind het, en kort daarna het “Snelvuur” met ‘n paar manskappe opgedaag om
ons te tel en die name op te skryf van die nuwe inkomelinge. Na afloop van hierdie
plegtigheid het die nuwe inwoners dadelik groepsgewyse ‘n lys van benodighede
opgestel, want menigeen was al byna nakend, en dit aan hul onderskeie lyn-kapteins
oorhandig. Elke voorman (wat self nie gewerk het nie) het daarna die werk onder die
elf man in sy tent uitgedeel. Een moes elke more die vleis gaan haal, ‘n tweede hout
en ‘n derde brood - alles by die kommissariaat; ‘n ander moes hout kap, ‘n tweede
water aandra, ‘n ander een skottelgoed was, een die more-koffie maak, een die
middagete, terwyl ‘n ander die tent aan die kant moes hou, een die vuilgoed moes
besorg in die vate wat by die draadheining staan en ‘n ander vir die aandkoffie moes
sorg. Die rantsoene vir twaalf man was: daagliks nege pond beesvleis - wat baie vet
was, want dit was gevoerde beeste - twaalf brode (van een pond elk), twaalf onse
koffie, twaalf onse suiker, een blikkie “Ideal” melk, en een maal per week gedroogde
uie. Maandae en Vrydae het ons in plaas van beesvleis en brood elkeen
driekwartpond blikkiesvleis en vier klinkers gekry.
Dit was net genoeg om siel en liggaam aanmekaar te hou, met altyd ‘n brandende,
knaende gevoel op die maag vir die ongelukkiges wat geen geld gehad het om
groente, eiers, vrugte ens. van die eilandbewoners te koop nie. Buitendien was die
brood meestal rou, met die gevolg dat honderde kort na hul aankoms gely het aan
allerhande maagkwale.
“Waar is genl. Cronjé?” is deur menigeen gevra, waarop ons verneem het dat die
oubaas met sy vrou en sekretaris, Keiser, in ‘n private huis buite die kamp woon. Kapt.
De Witt Hamer en (later) genl. Ben Viljoen het ook buite die kamp gewoon asook ons
geestelike versorger, ds. Albertyn, en sy eggenote.
Die opgewondenheid is verby. Die nuus is alles oor en weer vertel en nou kom die
reaksie. Die marteling van niksdoen is onuithoudbaar. Elke dag is dit dieselfde: eet
(wat daar is), rondlê, slaap en dink, want leesstof is daar nie - daarvoor het die twee
kampsensors, kapteins Proctor en Walton, gesorg. Ons het darem die St. Helena
Guardian gekry, maar aangesien die inhoud maar net bestaan uit aankondigings van
oorwinnings deur die Engelse magte en nederlae wat deur die Republikeinse
kommando’s gely is, het ons die blaadjie baie gou uit die kamp verban. Almal het ‘n
onuitspreeklike verlange na nuus van bloedverwante, maar geen pos het nog
aangekom nie. Sal ons nou maar lê en versleg en met gevoude hande wag totdat die
vrede gesluit word? Nee, daarvoor sien die bannelinge nie kans nie. Iets moet gevind
word om die sieldodende niksdoen te verhelp. Maar wat? In sy wanhoop het menige
ou boer maar sy knipmes te voorskyn gehaal en daarmee aan ‘n stukkie hout begin
peusel om die tyd te verdryf, en wat was sy verbasing na ‘n rukkie om te sien dat hy
‘n penhouer gemaak het! Ander weer het hul pype geneem en daarop begin uitsny
en toe hul klaar was, was dit die ewebeeld van president Kruger of president Steyn.
Sodoende het daardie manne nie alleen ‘n aangename tydverdryf gevind nie, maar
buitendien ‘n middel om ‘n paar pennies mee te verdien. Maar wat van diegene wat
geen aanleg vir hierdie soort werk gehad het nie? Die onderwysers en student onder
ons het dadelik ingesien dat daar ‘n pragtige geleentheid vir hulle was om die jeug
onderwys te gee. Katkisasieklasse is opgerig en Strewers - en Jongeliede -
verenigings gestig deur manne soos Attie Fourie (tans minister), Jack Retief (ds.),
Harry Webb (ds.), Charlie Mynhardt (ds.), Piet Shaw (ds.), Karl Winter, John
Schumann, Bressler, Kat, Sausenthaler, wyle Bertie Schoeman, Charlie Roux, C.
Kotzé, Pieter Zinn en ander.
Maar waar sou die optimistiese jong manne die nodige boeke en skryfbehoeftes
vandaan kry? Na ryp beraad het die pasgestigte Skoolkommissie op advies van
Sausenthaler en ander na Holland geskryf en ‘n beroep op die mense daar gedoen
om die skoolboeke wat aan die Kaap in die gebruik was, aan die kommissie te stuur.
‘n Dergelike beroep is ook gedoen op die goedgesindheid van die Kaapkolonie.
Intussen is ‘n paar goingsakgeboutjies opgetrek om te dien as skole en ‘n aanvang
gemaak met skoolhou sonder boeke. Hangende die aankoms van die bestelde boeke
is die lesse in skryfboekies afgeskryf.
Kort na hul stigting was die Strewer- en Jongeliede - vereniging in volle gang, asook
die katkisasieklasse, sodat daar voldoende geestelike afleiding was, maar van stilsit
kry die liggaam self geen oefening nie. Ons moes oefening hê om te verhinder dat
die litte styf en stram word. Maar weer het die vraag ontstaan - hoe? Piet Nel (tans
prokureur in Potchefstroom) het van die Hollanders-krygsgevangenis verneem by wie
om aan te klop om hulp, en sonder versuim het hy ‘n komitee benoem om ‘n lys op te
stel van alle sportbenodighede wat ons moes hê en dit weggestuur. Intussen het hy
al die manne bymekaar gemaak wat rugby kon speel met die doel om twee spanne te
stig. Ongelukkig kon hy nie meer as net veertien spelers kry nie, nl. Sammie Morkel
(later die beroemde Springbokspeler), Willie Schultz, Charlie Mynhardt, Eddie en
Tobie Mynhardt, Harry Wbb, Piet Shaw, Alex Jankowitz, Henrik Mentz, Ivan Raaff,
Fred van Tonder, Jack Tungs, Izak Minnaar en homself. ‘n Ander moeilikheid waaroor
ons te staan gekom het, was om ‘n rugbybal in die hande te kry. Die Engelse soldate
het net sokker gespeel en kon dus nie die bal leen nie. Op die ou end het ons onself
gehelp met ‘n ou sokkerbal. Om meer spelers te kry, het ons sestien jong seuns wat
graag die spel wou leer, in ons rugbyklub opgeneem en hulle afgerig. Niemand van
ons wat op St. Helena was, sal ooit die wedstryde vergeet wat ons onder aanvoering
van Nel en Morkel gespeel het nie! Dit was dikwels meer stoeiwedstryde as iets
anders, maar nietemin vanaf daardie dae het rugby met rasse skrede onder die
Afrikaners vooruitgegaan.
Met dieselfde skip waarmee ds. Albie Louw van Graaf-Reinet na ons oorgekom het
om ons geestelik te bearbei, het ook die pos uit Kaapstad aangekom. Daar het groot
opgewondenheid onder die krygsgevangenes geheers om nuus te verneem en
miskien ‘n pakkie van ‘n bloedverwant of vriend te ontvang, en wie weet dalk ook ‘n
paar sjielings om tabak en ander snoeperye meet te koop. Die volgende more vroeg
het daar ‘n groot skare voor die kantoor van die sensors bymekaar gekom. Die
sensors het om tienuur in die kantoor verskyn en enkele van die krygsgevangenes
versoek om hulle te help met die aflees (in alfabetiese volgorde) van die adresse.
Hiermee het menige grappige voorval gepaard gegaan, soos byv. in die geval van die
ou tante wat net geskryf het: “Aan Mijn Geliefde Man - St. Helena.” Almal het dadelik
uitgeroep dat die brief aan hulle behoort, maar met die wysheid van Salomo is besluit
om die brief oop te skeur en te sien wie dit onderteken het, maar selfs hiermee was
die vraagstuk nog nie opgelos nie, want die ou tante het geëindig met die woorde:
“Van jou liefhebbende ou Vrou!” Die koevert, so meen ek, het Willie Schultz van
Heidelberg as ‘n kuriositeit bewaar. ‘n Ander tante het haar man se naam korrek
neergeskryf en geëindig met “St., Helena, Distrik Seewater”. Sommige koeverte het
die adres gehad “St. Helena, alias Bully Beef Island”, maar die sensors het dit nie as
‘n grap beskou nie en streng gewaarsku teen alle dergelike adresvorms. Die briewe
het vir baie vreugde en verligting gebring, maar vir ander smart en verdriet. Hier vee
een ‘n stille traan uit sy oog: hy het tyding ontvang van die dood van vrou of kind. Dit
was die geval met elke pos wat aangekom het - vreugde vir die een, verdriet vir die
ander. Hoe langer die stryd geduur het hoe erger het die nuus geword.
Die water wat ons gekry het, het bestaan uit gekondenseerde seewater wat met ‘n
pypleiding vanuit die baai aangevoer is. Dikwels het dit gebeur dat daar iets verkeerd
gaan met die masjinerie, met die gevolg dat ons dan sonder water in die kamp was.
By dergelike geleenthede het die krygsgevangenes in lang rye van 400 tot 500
gestaan, elkeen met sy emmer in sy hand, wagtende op die water, waarvan niemand
kon sê wanneer dit uit die pyp te voorskyn sou kom nie. Waag iemand dit om sy pos
in die ry te verlaat, word sy emmer sonder verwyl weggesmyt en moet die arme
drommel weer van agter af begin. Somtyds het dit gebeur dat daar tot vier-en-twintig
uur verloop het voordat die water weer in die pyp gevloei het, en dat dit die manne
kriewelrig en ongeduldig gemaak het, is lig te verstaan.
Iedere keer wanneer daar ‘n transportskip met krygsgevangenes in die baai aangekom
het, het daar groot opgewondenheid in die kamp geheers. Al die nuwelinge is by hul
aankoms in die kamp begroet met die oorlogskreet “Holder!”. Dit was ook ‘n
aardigheid om te sien hoe die rugby-entoesiaste met mekaar gewedywer het om nuwe
spelers in die hande te kry, want ons rugby-unie was teen daardie tyd ‘n bloeiende
instelling en toernooie tussen die verkillende spanne was aan die orde van die dag.
Onder die nuwelinge was die kommandant Sarel Eloff, ‘n kleinseun van president
Kruger, wat hom met sy manskappe aan kol. Hoare moes oorgee. Saam met hom het
daar o.a. aangekom Hennie Louw (wat vir ons ‘n groot aanwins was met sy pragtige
tenoorstem), Jack van der Hoven en ‘n klein, tingerige Joodjie, Isador Golding, wat
hom baie dapper gedra het met die bestorming van ‘n Engelse fort, Johnnie
Lindenberg (‘n eersteklas vleuel-speler), Bull Fleck en John Bredell. Aangenaam was
dit om weer nuus uit die vaderland te verneem, hoewel die tyding van die nederlaag
van genl. Prinsloo ons baie neerslagtig laat voel het.
Ds. Albie Louw het die leiding op geestelike gebied in die kamp op hom geneem en
nuwe lewe in alles geblaas. Sy onvermoeide ywer laat ons almal verbaas staan. Van
soggens vroeg tot saans laat is hy en sy hulpvaardige werkers besig, so nie met die
gewone kerkdienste nie, dan met opwekkingsbyeenkomste, katkisasieklasse,
besoeke aan die tentbewoners, administrasiewerk ens. Buitendien moet Sy Eerw.
Ook nog die kamp op Broad Bottom, waar die Vrystaters geïnterneer is, bearbei. Die
Here het sy werk onder ons waarlik geseën deur hom die nodige krag daartoe te gee.
Hy is vandag een van die leraars van die gemeente Stellenbosch - nog dieselfde
beminlike Abie van vier-en-dertig jaar gelede.
Op ‘n more het daar met dagbreek ‘n geweerskoot geval, wat dadelik allerhande
gissings in die kamp gaande gemaak het. Toe dit lig word, het ons ontdek dat ‘n jong
seun in baie verdagte omstandighede naby die draadheining deur een van die wagte
doodgeskiet is. Sy lyk het nog daar op die grond gelê, en sy makkers het dit met die
grootste teerheid opgetel en na hul tent gedra en daarna ‘n boodskap na die
wagkamer gestuur. Die gebeurtenis het groot verontwaardiging onder die
krygsgevangenes verwek, veral toe ons van die seun se tentmakkers die feite van die
saak verneem het. Dit blyk dat die seun, ‘n jong Viljoen, daardie more aan die beurt
was om koffie te maak, en daar die hout as gevolg van die aanhoudende reën baie
nat was - die was boonop nog groen dennehout - kon hy die vuur nie aan die brand
kry nie. Wat hy toe gedoen het, was om niksvermoedend na een van die vuilgoedvate
by die draadheining te stap om ‘n klompie beesbene in die hande te kry om die vuur
daarmee aan die gang te probeer maak. Niemand in die tente daar in die buurt het
gehoor dat die wag hom waarsku om nie te naby die heining te kom nie. Van die
kommissie van ondersoek wat die kolonel ons beloof het, het ons nooit weer iets
gehoor nie.
Dit was gister ‘n groot dag. Daar het kiste met klere, skoene, tabak en allerhande
lekkernye uit die Kaapkolonie vir ons aangekom. Dat dit baie welkom was, spreek
vanself, maar wat vir ons veral ‘n riem onder die hart was, was die feit dat die van
mense gekom het van wie ons geweet het dat hulle innig met ons saak simpatiseer.
Die goed sou dieselfde middag uitgedeel word, en vroeg reeds het ‘n klomp manne
om die tent van Robert Aling vergader, daar laasgenoemde met die uitdeling belas
was. Onder die klere was daar ook ‘n ouderlingsmantel, en een van die kwajongens
in die kamp (ek sal sy naam maar nie noem nie) het gesorg dat hy dit in die hande kry.
Toe hy ook nog ‘n wit dassie op die lyf loop, was hy erg in sy skik, want dit het so
getref dat hy die volgende more weens ‘n beuselagtige oortreding voor die
kampkommandant (kol. Evans) moes verskyn. Presies om tienuur die volgende more
het die sersant-majoor Skirving uitgeroep: “Prisoner of War No. -“, waarop daar ewe
plegtig en statig ‘n “dominee” die kantoor binnestap en ‘n diep buiging voor die kolonel
maak. Laasgenoemde het nie geweet wat om van die affêre te dink nie en kyk die
nuwe predikant verbaas aan, dog sê nie ‘n woord nie. “Snelvuur” lees die aanklag
voor, en die kolonel vra nie, soos gebruiklik, of die aangeklaagde skuld beken nie,
maar brul uit: “What do you mean by appearing before me in this rigout?” Sonder om
te aarsel, antwoord die kwajong dat die toestand van sy broek hom genoodsaak het
om dit met ‘n mantel te bedek, en hy sit die daad by die word en toon dit aan die
kolonel. In plaas egter van met die verflenterde en gehawende seun te simpatiseer,
roep die offisier met die donderende stem uit: “Take him away and give him eight
days gaurd-tent!” Dit het hy daarvan gekry. Ons simpatieke Transvaalse magistraat,
Bob Aling, het hom ‘n mantel gegee om sy naaktheid mee te bedek, en die Engelse
magistraat het hom veroordeel omdat hy dit dra!
Eindelik en ten laaste het die militêre owerheid toegestaan dat krygsgevangenes op
parool mag uitgaan onder leiding van ons eie offisiere. Die verlof was geldig vir een
dag en is twee maal per week aan geskikte applikante toegestaan. Alle applikasies
om so ‘n permit moes deur middel van sers.maj. Skirving geskied, en as hy dit
aanbeveel, dan word dit toegestaan. Die applikasies het so vinnig ingestroom dat baie
van die manne ongeduldig geword het oor die lang tydperk van wag voordat hulle aan
die beurt kom. Op die dag waarop die paroolstelsel in werking getree het, het komdt.
Marthinus Wolmarans van Gatsrand, komdt. Tommie Martins, mynkommissaris
Arnoldi van Heidelberg, veldkornet Bosman, veldkornet David Hattingh, Bob Aling,
Glaeser, kapt. Thomas Kroon en nog ander offisiere elkeen vier man uitgeneem vir
wie hul verantwoordelik was. Dit was baie aangenaam om weer vry buite die kamp
rond te loop. Eers het ons ‘n besoek gebring aan die groot wit huis op Longwood,
waar Napoleon sy ballingskap deurgebring het, en daarna aan sy graf, geleë in ‘n
eensame klofie. In hierdie klofie het Napoleon ‘n fonteintjie ontdek, en hier het hy dae
aaneen deurgebring met mymering oor sy geliefde Frankryk, sy oorwinnings en sy val.
Daar by die fonteintjie is ‘n drinkbeker aan ‘n ketting vas, en vir baie van ons wat ons
dors daar geles het, was dit ‘n sekere mate van troos om te dink dat die groot
krygsman ook van dieselfde bron se water gedrink het. Vandag staan nog net die graf
met die ystertralies daarom daar op die plek, want Napoleon se beendere is later, soos
welbekend is, na Frankryk oorgebring.
Verder het ons goewerneur Sterndale se pragtige buiteverblyf besoek met sy kleurryke
blomtuine, sub-tropiese bome (piesangs en dadels was daar in oorvloed) en netjies
uitgelegde voetpaadjies. Veral interessant was die groot skilpad van oor die honder
jaar wat ons daar gesien het. Vier man kon maklik op sy rug sit, en dan nog het vier
sterk manne moeite gehad om hom vas te hou aan ‘n tou om sy voorlyf gebind.
Diegene van ons wat dit kon bekostig, het daardie middag by gasvrye St. Helleense
families gaan eet, by wie ons reeds die more ‘n middagete bestel het. Die ander het
onder een van die groot dadelpalms gaan sit en hul stukkie droë brood geëet en van
die heerlike koel water gedrink - tog nie gekondenseerde seewater nie! Dat die
maaltyd wat ons ander klomp bestel het, lekker gesmaak het, kan ek die leser
verseker. Die eetmaal het bestaan uit gebraaide hoender, gekookte aartappels,
blomkool, groenboontjies, slaai, botter en brood, koffie en ‘n heerlike poeding as
nagereg. Dit alles het maar net twee sjielings per persoon gekos. Baie tevrede met
ons uitstappie het ons die namiddag na die kamp teruggekeer en daar die aand
gedroom van koninklike maaltye, dog helaas, die volgende more ontwaak in die
werklikheid van die benoude tent, waar “bully beef” en “klinkers” die hoofgeregte was!
Na lang onderhandelings het die Russiese prins in die kamp daarin geslaag om verlof
te kry om na sy vaderland terug te keer. Ons het baie hartlik van hom afskeid geneem,
en by sy vertrek het hy beloof om ons uit Rusland ‘n bydrae te stuur vir die
gedenkteken wat ons van voorneme was om vir die gestorwenes van die kamp op te
rig.
Die veldhospitaal en die hospitaal op Jamestown is vol. Maagsiektes heers in ‘n
ernstige graad, en ons skryf dit toe aan die rou brood en gekondenseerde water en
aan die nat klimaat van die eiland. Die dokter het sy hande vol, maar daar is in alle
geval nie veel van hom te verwagte nie, want hy is ons glad nie simpatiek gesind nie.
‘n Hele klompie sterfgevalle aan maagkoors het al plaasgevind, o.a. Attie de Villiers
van Johannesburg. Weens die aanhoudende nattigheid het dubbele longontsteking
ook sy verskyning in die kamp gemaak.
Gelukkig het ons verneem dat die omsimpatieke dokter na die front gaan en dat sy
plek deur ‘n Ier, dr. Rowe, ingeneem sal word. Ons koester almal die verwagting op
beter behandeling, want ons weet dat die Iere oor die algemeen die Boere goedgesind
is. Nog voor dr. Rowe se aankoms het die gevreesde beri beri egter ook onder ons
mense uitgebreek, te wyte aan die gebrek aan groente en te veel ingemaakte vleis.
Ons het weliswaar eens op ‘n tyd af en toe gekerfde droë uie gekry, maar dit is nou al
geruime tyd dat ons dit nie meer ontvang nie. Een van ons manne het op ‘n dag by
die afspoel van die uie om dit in die pot te gooi, blink goetertjies daarin gesien. By
ondersoek het geblyk dat dit stukkies glas was. Die tyding het soos ‘n lopende vuurtjie
deur die kamp versprei, en toe by verder ondersoek aan die lig kom dat dit nie ‘n
geïsoleerde geval was nie, het die verontwaardiging onder die krygsgevangenes ten
toppunt gestyf. Die saak is dadelik onder die aandag van die lyn-kapteins gebring en
‘n deputasie is met bewysstukke na die kamp-kommandant gestuur. Hy was baie
verbaas en wou dit eers aan onsself toeskryf, maar later het hy van houding verander
en verklaar dat die messe waarmee die uie gekerf is, van glas was en dat daar van
hulle gebreek het, met die gevolg dat van die glasskerwe in die uie gekom het. Die
verklaring was vir ons nie aanneemlik nie, dus het ons eenvoudig besluit om die goed
nie weer in ontvangs te neem nie.
Onder die manne wat aan beri beri gely het, was Paul Pretorius van Potchefstroom,
die kampioen-fietsryer oor honderd myl. Ek het hom in die hospitaal gaan besoek, en
in antwoord op my vraag: “Hoe gaan dit?” was dit pateties om sy antwoord te hoor:
“Sleg. Ek sal nooit weer kan fietsry nie, al staan ek weer hier op, want die siekte het
my ondermyn.”
Hy het egter weer herstel, en kort daarna het dr. Rowe aangekom in die kamp. Hy het
dadelik vir ons in die bres gespring en versterkende middels vir die siekes voorgeskryf,
o.a. baie lemoensap en vars groente. Verder het hy toegesien dat elkeen ‘n warm jas
kry. As gevolg van dr. Rowe se uitstekende behandeling het die gevreesde beri beri
verdwyn en maagsiektes ook nog maar net in enkele gevalle voorgekom.
Daar heers groot blydskap en opgewondenheid in die kamp want die kiste met
skoolboeke en sportbenodighede het uit Holland aangekom, asook ‘n groot
hoeveelheid tabak, sigare en pype vir die rokers. Die sportkomitee onder
voorsitterskap van Charlie Mynhardt het die kiste met sportbenodighede in ontvangs
geneem, en wat was hul verbasing en blydskap toe hulle dit oopmaak! Die inhoud het
die stoutste verwagtings ver oortref. Die pragtige geskenk het naamlik bestaan uit
twee volledige krieketstelle met twee matte, agtien krieketballe, twaalf tennisrakette,
vier dosyn tennisballe, agt rugbyballe, ses sokkerballe, vier stelle bokshandskoene, ‘n
volledige gimnastiekstel, kortom, alles wat ‘n atletiekvereniging nodig het. Verder was
daar nog ‘n dosyn skaakstelle, twaalf dambordstelle, handgewigte en les bes
voldoende blaas- en strykinstrumente om ‘n mooi orkes mee te stig.
Dit was natuurlik ene rep en roer in die kamp met die aankoms van hierdie mooi
geskenk. Die gimnastiek-uitrusting is deur Henri Brink as die voorsitter van sy
vereniging in ontvangs geneem en Willie Parker, ons afrigter, het beslag gelê op die
bokshandskoene en alles wat daarby behoort. Daar is dadelik ‘n klas vir beginners
gestig, teen drie sjielings elk per maand. Die skaak- en dambordstelle tesame met
die spelle is deur voorsitter Houtsager in bewaring geneem, en die musiekinstrumente
deur Sausenthaler. Die orige krieket-, voetbal- en tennisbenodighede is deur Piet Nel
namens die verskillende verenigings in ontvangs geneem.
As die sportliewende manne in hul glorie was oor die pragtige sportuitrusting, dan was
die onderwysers en geestelike leidsmanne onder ons nie minder in hul skik met hul
present nie. Nou kon hulle eindelik hul langgekoesterde ideaal verwesenlik om lig en
leiding te gee aan die baie “ongeslypte diamante” in die kamp, want saam met die
boeke uit die Kaapkolonie en die volledige besending uit Holland het hulle nou genoeg
gehad om ‘n aanvang te maak met hul klasse. Menige man wat vandag ‘n skitterende
lig in ons land is, het sy eerste opleiding daar in die kamp op St. Helena ontvang.
Op inisiatief van ds. Albie Louw is by die steeds simpatieke Holland aangeklop vir die
nodige gereedskap en materiaal vir ‘n skoenmakers- en snyerswinkel, en met die
aankoms hiervan het menigeen nie alleen ‘n nuttige ambag geleer nie maar ook
tegelykertyd die sieldodende niksdoen verdryf.
Genl. Piet Cronjé het ons ‘n besoek kom bring met sy eggenote en private sekretaris.
Die meeste van ons het natuurlik baie van die kwaai ou generaal gehoor, dog daar
was maar min onder ons wat al die eer gehad het om hom te ontmoet, met die gevolg
dat ons almal maar baie nuuskierig was om hom te sien. Die oubaas was net so kortaf
en bot as altyd en het soos ‘n kwaai bulhond aan ‘n ketting in die kamp rondgestap.
Sy fyn, skril stemmetjie het ons baie verbaas - ons kon maar nie glo dat dit uit die
kwaai oubaas se mond kom nie. Ons het hom nietemin met die grootste eerbied
bejeën as een van die baanbrekers van ons volk en hom sy hardnekkigeheid by
Paardeberg, wat sy ondergang teweeggebring het, vergewe...
Ons voel bedruk en neerslagtig, want ons het die amptelike berig ontvang dat Pretoria
sonder ‘n skoot in die hande van die vyand geval het, en ook die verpletterende tyding
dat ons geliefde staatspresident Paul Kruger na Holland vertrek en dat sy sieklike
eggenote agtergebly het. Hy, die inspirasie van ons volk, die kragdadige godsman,
die siel van ons verset teen die vyand, het ons verlaat! Ons voel bedruk, want ons
weet nie waarom nie. Al troos in die swaar beproewing vir ons is dat ons nog manne
soos ‘n Marthinus T. Steyn, F.W. Reitz, Louis Botha, Christiaan de Wet, De la Rey en
so meer het om vir ons reg te veg en vir ons volk in die bres te tree. Ook koester ons
nog almal die hoop dat lande soos Holland, Duitsland en Amerika tussenbeide sal kom
om ons ons reeds-met-bloed-gedrenkte-land terug te gee.
Die owerheid het die parool-voorwaardes weer gewysig. Ons kan nou elkeen
afsonderlik ‘n permit kry om die kamp te verlaat. Ook is die duur van die permit nou
twee dae, en buitendien verleen dit ons die reg om Jamestown te besoek. Daar die
geldjies maar skaars is, het ‘n hele klomp van die manne aansoek gedoen om verlof
om buite die kamp te gaan werk. Dit is hulle toegestaan en ‘n twintigtal het by die
broerders Deeson op Longwood gaan werk. Die werk het bestaan uit skoffel in die
tuine, hout-kap en saag (die Deesons het die kontrak vir die lewering van brandhout
vir die kamp gehad) en die loon was een sjieling per dag. Die manne het soggens die
kamp verlaat en saans teruggekeer om te kom slaap. Ook het ‘n klompie van ons
mense werk gekry by die artillerie-depot op dieselfde voorwaardes, behalwe alleen
dat hulle in ‘n klein kampie in Jamestown gaan woon het. Een van ons manne, Charlie
Taylor, ‘n Hollander, het aansoek gedoen om die reg om ‘n koffiekamer in Jamestown
te begin. Sy versoek is toegestaan en van toe af kon diegene van ons wat op parool
uitgaan, altyd verseker wees van ‘n tuisplekkie buite die kamp. En die egte Hollandse
koffie wat Charlie ons voorgesit het!
Die oorlog duur langer as wat ons gemeen het, en dit word so langsamerhand
ondraaglik vir twaalf manne om in die beperkte ruimte van ‘n klein tentjie te woon. So
stadigaan verrys op die oop ruimte agter die tent-dorp meer en meer pondokkies van
goiingsak en seiltjies en ook blikkieshuisies, gemaak van beskuitblikke wat
platgeslaan word. Daar was later ‘n hele “blikkiesdorp” in die kamp, wat ‘n mens baie
laat dink het aan Vrededorp na die dinamietontploffing van 1896. Met die uitbreiding
het kafees en winkeltjies soos paddastoele in die kamp verrys, en hierdie deel het later
die besigheidsentrum van die kamp geword. Daar was manne wat penhouers,
servetringe (van been gemaak), borsspelde, kieries ens. verkoop het. Daar is veral
George Wolfaardt en Willem Schoeman wat honderde kieries aan die offisiere en
soldate verkoop het. Maar trouens al die artikels wat deur die krygsgevangenes
gemaak is, het groot aftrek gehad. Dan het oubaas Fick (broer van ds. M.L. Fick, L.V.
vir Potchefstroom) nog sy betalende afnemersaak in “Blikkiesdorp” gehad, terwyl
Danie Malherbe en Willie Schultz in kruideniersware gehandel het. Verder was die
dubbelverdieping-kafee van ‘n Hollandse firma (ook krygsgevangenes), die
Strewerskafee, die Hollandse en Afrikaanse Klub, Slabber se pannekoekwinkel, die
biljartsaal (met groot tweedehandse tafel) en les bes twee groot kerksale - alles van
beskuitblikke en garingboompale opgetrek.
Ongetwyfeld een van die interessantste voorwerpe wat die krygsgevangenes op St.
Helena gemaak het, was die model van ‘n goudbattery van twaalf stampers, volledig
tot in alle besonderhede. Die dryfkrag is verskaf deur ‘n windmeule gemaak deur vier
Skandinawiërs. Die werk aan die battery het maande en maande geduur, en later het
lord Bathurst, wat baie ingenome was daarmee, dit vir £50 van die ontwerpers gekoop.
Verder was daar ‘n kanon met ammunisiewa, gemaak deur die geniale grapmaker
“Taffy” Borcherd en sy vriend Nic Jooste. ‘n Sekere Lötter het vir die bekleedsel
gesorg. Die “gevaarlike moordtuig” is in die geheim gebou, en toe dit klaar was, het
“Taffy” my opdrag gegee om die kommandant in kennis te stel om dit te kom
inspekteer. So gesê so gedaan. Die kolonel het so groot geskrik om te hoor daar is
‘n kanon in die kamp dat sy oogglasie uit sy oog geval het. Dadelik het hy aan
sers.maj. Skirving bevel gegee om die wag op te roep, dog toe ek hom meedeel dat
dit maar ‘n klein kanonnetjie is, was hy net gesteurd, want hy het gemeen ek hou hom
vir die gek. Hy het nietemin beloof om te kom kyk maar het een van sy luitenante
gelas het om saam met hom te kom.
Toe ons by die huisie kom, klop ek aan en iemand roep dadelik uit: “Kom binne!” Ons
stap in en sê aan die drie vervaardigers dat ons gekom het om die kanon te sien. Dit
het onder ‘n laken bedek gestaan.
“Wel, ek hoor julle het ‘n kanon gemaak!” sê die kolonel.
“Ja” antwoord Taffy.
“Ek wil dit graag sien”, sê die kolonel, “maar vooraf moet ek julle waarsku dat die besit
van so ‘n gevaarlike wapen nie veroorloof is in die kamp nie!”
Nadat hy die miniatuur-kanon besigtig en ‘n private onderhoud met sy sekretaris
gehad het, vra die kolonel: “Wat omtrent kruit?” en Taffy antwoord dat hulle gaan
probeer om kruit uit die harde “klinkers” te maak!
Om ‘n paar pennies te verdien het ek die kolonel om verlof gevra om die kanon teen
betaling van ‘n fooi aan die ander gevangenes te vertoon. Teen ‘n toegangsprys van
een pennie elk kon die nuuskierige skare (want die nuuskierigheid het net hoog geloop
as gevolg van die kolonel se besoek) toe die wonderlike wapen kom besigtig. In ‘n
ommesientjie het ek die mooi sommetjie van agt sjielings en sewe pennies verdien.
Soos reeds gesê was almal in die kamp daarop uit om ‘n bietjie geld te verdien, maar
sommige het dit helaas nie op eerlike wyse gedoen nie, want hulle het dobbel-
apparate vervaardig en dobbelspele ingevoer. Hierdie wyse van geldmaak is deur die
oorgrote meerderheid van die krygsgevangenes afgekeur. Ek onthou nog goed hoe
Bertie Schoeman (hy is later getroud met een van die dogters van die wyle dr. H.S.
Bosman van Pretoria) die moed gehad het om langs die eienaar van een van die
dobbel-apparate op die verhoog te klim en hierdie manier van geldmaak op
rondborstige wyse af te keur. Die mense wat egter die grootste sake gedoen het, was
- ek is jammer om dit te sê - die dranksmokkelaars.
Deurdat daar in die koerant van die Kaapkolonie lyste van name van die
krygsgevangenes verskyn het, het die nie lank geduur nie of van die gevangenes het
briewe van jong dames uit die Kolonie ontvang. Die bedoeling was natuurlik om ons
eensaamheid te versag en om ons te toon dat hulle met ons simpatiseer. Menige
krygsgevangene het op die briewe geantwoord en meer as een verlowing en gelukkige
huwelik het voortgevloei uit die briewewisseling en wedersydse toesending van
portrette.
Ons krygsgevangenes was ook belet om ons twee geliefde volksliedere te sing, in die
openbaar natuurlik. Een van ons manne is op ‘n dag voor die kolonel gedaag weens
die “verskriklike” misdaad dat hy “Ken gij dat volk vol heldenmoed” gesing het. Hy het
die aanklag ontken, maar sers.maj. Skirving en sy getuie het op hul punt gestaan,
waarop die beskuldigde erken dat hy gesing het, maar nie die Transvaalse Volkslied
nie, maar “Mary had a little lamb”!
“Dan sing jy dit nou hier voor my!” sê die kolonel.
“O Wee!: dink die beskuldigde. “Wat gaan nou gebeur?”
Sonder om te aarsel, slaan hy egter los en sing “Mary had a little lamb” op die wysie
van die volkslied en kry dit pragtig reg. Die laaste reël sluit hy af met ‘n statige buiging
in die rigting van die Kolonel, toe die laaste refrein wegsterf, snou laasgenoemde hom
toe: “Get out of here at once!”
Weer ‘n pos, net na die proklamasie van lord Roberts van 16 Junie 1900, waarin hy
gelas het dat die vroue en kinders in konsentrasiekampe byeengebring moet word,
asook die proklamasie waarin alle burgers in die besette gebiede wat nie die eed van
trou wil aflê nie, met deportasie gedreig word.
Aan die gesigte van die manne wat oral hul briewe staan of sit en lees, kan ‘n mens
sien dat die berigte alles behalwe bemoedigend is. Van alle kante het tyding gekom
van verwoesting en elende en van die afsterwe van dierbares. ‘n Paar dae na die
aankoms van die pos was oral om arm of hoed lanfer te sien. Diegene wat in in staat
was om lanfer te koop nie, het ‘n stukkie aan die kraag van hul baadjie gedra, ‘n stukkie
wat hulle van medelydende vriende ontvang het. Trots die swaarkry van ons edele
vroue het nie een van hulle ‘n klag in hul briewe laat hoor nie, dog ons steeds moed
ingepraat om maar geduld te beoefen, want, so het hulle gesê, die Here sal op sy
bestemde tyd uitkoms skenk. Uit hierdie volharding van ons dierbares en uit die
sending van die Deputasie van die Afrikaner-Bond uit die Kaapkolonie na Engeland
om vir die Republieke te pleit, het ons weer moed geskep. Ten spyte van die
strengheid van die sensors het menige vrou en dogter ‘n vernuftige plan uitgedink om
die ware toestand aan ons mee te deel. Een vrou het bv. aan haar man geskryf van
‘n groot swerm sprinkane (van die rooibaadjie-soort) hul verskyning op die plaas
gemaak het, maar dat daar gelukkig ‘n baie groot swerm sprinkaanvoëls was wat groot
verwoesting aangerig het onder die invallers voordat hul veel kwaad kon doen!
Kos is maar min en skraal, en om elke aand die droë stukkie brood - want die vlees
is gewoonlik teen die middag al alles opgeëet - met koffie te eet, word op die duur
onuithoudbaar. Een van die manne wat belas was met die voorbereiding van die
middagete (wat meestal uit gekookte of gebraaide vlees bestaan het) het ‘n plan
gemaak om lekkerder te eet. Sy plan het goed beantwoord totdat iemand hom gaan
verklap het. Wat hy gedoen het, was die volgende: soggens as hy die vlees op die
vuur sit, is sy makkers gewoonlik weg van die tent en dan neem hy ongeveer twee
liter water, kook die nege pond vet beesvlees ‘n uur lank vinnig daarin, gooi al die krag
af, gooi weer water in die pot, gee die ekstrak die nodige peper en sout en stil sy
honger met heerlike, kragtige soep en brood. As die middagete opgeskep word, eet
meneer nie sy beesvlees nie, want hy het genoeg gehad aan die soep, maar bêre dit
vir die aand. As sy tentmakkers kla dat die vlees kragteloos is, dan vertel hy dat die
vlees van gevoerde beeste altyd laf is! Hy het ook net mooi vet begin word toe een
van ons maters hom op ‘n more op heterdaad betrap. Sy lekker lewe was op ‘n end.
Die Boere het ook ‘n plan gemaak om “bully beef” te kul, hoewel ons goed geweet het
dat “bully beef” maar nie van streke verander nie. Wat ons gedoen het, was om die
dag voor die uitdeling van “bully beef” die meeste vlees van die bene af te sny en dit
dan eenkant te hou vir “bully beef” dag. Van die bene en orige vlees het ons soep
gemaak en die volgende dag die beesvlees saam met die “bully beef” gemaal en
frikkadel daarvan gemaak. Met die harde onverteerbare klinkers, wat ook maar nie
wou sag word nie, het ons ook ‘n plan gehad. Ons het hulle fyn gerasper en daar ‘n
heerlike, kragtige pap van gemaak, want iedere “klinker” het ‘n sekere hoeveelheid
vlees-ekstrak bevat.
Wanneer sal die lading krygsgevangenes dan eendag ophou? Ons het nou verneem
dat daar weer ‘n transportkip in die baai aangekom het, en volgens die voorbereidings
vir die opslaan van tente moet ons dit glo. Dit het ook nie lank geduur nie of die
ongelukkiges het in die kamp verskyn. Onder hulle was bloedweinig weerbare manne.
Die oorgrote meerderheid bestaan uit afgeleefde ou vaders en jong seuns van nog nie
agtien jaar nie, weggeskeur van moedersy om haar man, wat nog op kommando is,
tot oorgawe te dwing. Gelukkig het ons die wakker Strewersvereniging om die
toekomstige vaders van ons volk onder sy sorg te neem en hulle die nodige Christelike
opvoeding te gee. Onder die nuwe aankomelinge is ook die wakker krygsman -
sportman, ds. Ennis, wat ds. Louw met sy veelsydige pligte tot groot hulp sal wees.
Ds. Ennis, met sy lang baard en gewone burgerklere, het as gewone krygsgevange
gekom, maar dadelik met die bearbeiding van siele begin. Ons vorder fluks, want ons
het nou ons eie kampkoerantjie, Die Krijgsgevangene, onder die bekwame
redakteurskap van Everitt, bygestaan deur ywerige medewerkers. Die nuus wat ons
van die Engelse kant kry, is steeds van nederlae deur die Boere gely, en nou publiseer
ons behalwe kampnuus ook kabelberigte wat deurlek.
Die tyd nader wanneer ons die verjaarsdae van ons twee Presidente en van oud-
President Reitz sal vier, en om reg aan almal te laat geskied, het die Sportkomitee en
die ander verenigings besluit om op 8 en 9 Oktober sportbyeenkomste te hou en op
die tiende ‘n groot opvoering, met die gevolg dat daar groot bedrywigheid in die kamp
is. Die inwoners van Broad Bottom-kamp is ook uitgenooi om die feestelikhede by te
woon en daaraan deel te neem. Die sportterrein word in orde gemaak. Die
hardlopers, springers, stappers ens. oefen hard, terwyl die deelnemers aan die
verskillende toneelopvoerings ook nie stilsit nie. ‘n Sterk komitee is gevorm. Gen
Cronjé is ere-president en kapt. Versewil de Wit Hamer onder-president, Charlie
Mynhardt voorsitter, Piet Nel sekretaris en die kampioen Phil Blignaut voorgee-
beampte. Die sorg vir die gimnastiek-afdeling is in die bekwame hande van Beunk en
die opvoering in die hande van die Afrikaans-Hollandse Klub. Die manne wat oefen
vir die wedlope, doen dit in die aande (om nie hul krag op swakheid aan die voorgeër
te verraai nie!) en elke aand as die klomp oefen, lê die baan rondom vol nuuskieriges
om die vordering wat gemaak word, te aanskou.
Frank Roome, ‘n deskundige op die gebied van wedlope en skrywer, was ook
aanwesig by die oefeninge op die terrein. Roome het later gemerk dat daar onder die
baasstappers wat so ywerig oefen, ‘n skraal jong seuntjie van twaalf jaar vir die
stapwedstryd van drie myl oefen. Tot sy verbasing dat die seuntjie bybly en dat die
groot manne hom maar nie kan afskud nie. Na afloop van die oefening het Roome
aan die seun gevra waar hy leer “loop” het, en ewe pront het hy die antwoord geklink:
“Agter die vee aan, Oom!”
“Goed, ou seun,” sê Roome, “jy moet jou more laat inskryf om saam te stap.:
“Omie, ek het nie die geld nie!”
“Bekommer jou nie daaroor nie - ek sal sorg”, kom dit van Roome.
Die volgende more het Roome na die voorsitter van die Sportkomitee gegaan om die
seun vir die drie-myl-stapwedloop in te skryf, maar ongelukkig kon Mynhardt dit nie
doen nie, want die inskrywingslys het ‘n paar dae tevore gesluit. ‘n Beroep is gedoen
op die komitee gedoen om ‘n uitsondering te maak, maar dit is ook geweier. Die
komitee het egter toegelaat dat die seun “vir die aardigheid” mag saamstap met die
deelnemers aan die drie-myl-stapwedstryd. Roome het die seun na die
skoenmakerswinkel geneem en vir hom ‘n paar groen seildoekskoene met spykers
onder die sole bestel. Die seun kon ongelukkig nie met hulle wegkom nie en moes
die afstand van drie myl dus kaalvoet aanvaar. Onderwyl ons besig was om alles in
orde te maak vir die a.s. feestelikhede, was die Engelse soldate besig om ‘n nuwe
kamp, ongeveer duisend tree van ons kamp af, aan te lê. Dit was vir ons ‘n raaisel vir
wie die kamp bedoel kon wees, maar ons het later verneem dat dit vir veroordeelde
Kaapse rebelle was. Nie lank daarna nie het die manne opgedaag en hul intrek
geneem in die kamp - waartoe hul lewenslank veroordeel was. Om aan hulle te toon
dat ons van harte met hulle simpatiseer in hul swaar verdrukking, het ons almal so
naby as ons dit kon waag, aan die draadheining gaan staan en met begeleiding van
die blaas-orkes, hulle die Transvaalse en Vrystaatse Volksliedere toegesing. Dit was
baie indrukwekkend om ‘n paar duisend manstemme die geliefde twee Volksliedere
te hoor sing en daar in die verte die klompie “verstotelinge” met ontblote hoofde daarna
te sien staan en luister. Menige stille traan het oor die wange van die geharde stryders
gerol. As ons behandeling baie te wense oorgelaat het, dan was dit nog ‘n hemel op
aarde in vergelyking met die lot van daardie arme manne! Hulle kos was nie alleen
kariger nie, maar as veroordeeldes moes hulle ook hardepad-werk doen. Hul wagte
was baie strenger as ons s’n, en hulle het hoegenaamd geen voorregte geniet nie. En
dan nog het hulle die aaklige gevoel gehad dat hulle vir altyd verban was van vrou en
kind, huis en haard, en dat hulle op die ou end, wanneer die dood intree, alleen maar
‘n eensame graf op die eiland wag.
Die sportterrein laat ‘n mens vandag baie aan die “Wanderers” in Johannesburg dink.
Die hele terrein is met pale en dik toue afgekamp (die toue en ander benodighede het
ons goedgunstig van die kampkommandant ontvang) en oral wapper vlaggies. Die
verkillende afstande is behoorlik afgesteek, en die plekke vir die hoogspring,
verspring, en hekkies- en hinderniswedlope is in gereedheid, asook die botterpaal, wat
my baie aan Haman se galg laat dink het. Nou wag ons net op die agste Oktober.
Die versiering en opskikking van die saal waarin die uitvoering gehou sal word, is alles
in die geheim gedoen, maar tog het dit uitgelek dat dit nog die grootste verrassing van
die hele fees sou wes. Die aan van die sewende het die besoekers van Broad Bottom-
kamp al aangekom, asook die manne wat in Jamestown werk. Toe die dag van 8
Oktober eindelik aanbreek, het ons die geluk gehad om ‘n mooi onbewolkte dag te hê.
Om nege-uur het die voorsitter C. Mynhardt sy toespraak gehou, en daarna het die
ondervoorsitter, Kapt. Versewil de Wit Hamer, sy openingsrede gelewer. Daar was
minstens 5000 manne aan weerskante van die twee lang toue: ou grysaards,
baardlose seuns en Engelse offisiere en soldate. O.M. was daar ook genl. Cronjé en
kol. Evans, opperbevelhebber van die militêre. E.C. Pienaar (vandag prof. dr.) het die
hoogspring en verspring gewen en Piet Nel die hekkiespring. ‘n Hele klompie nuwe
rekords is daardie dag geskep. Die orkes het die hele dag deur musiek verskaf en
verversings was ook teen billike pryse verkrygbaar. Die laaste nommer op die
program was die stapwedloop van drie myl, en hiervoor het minstens vyf-en-dertig
deelnemers hulle laat inskryf. Dit was die voorgee-wedloop, en Willie Schultz het op
die lyn begin terwyl sommige van die deelnemers tot 800-tree-voorgee gekry het. Die
jong seuntjie wat deur Roome beweeg was om ook deel te neem, is deur
laasgenoemde ook op die lyn geplaas, langs Schultz. Sy opdrag aan die seun was:
“Hou net daardie oom dop!” Dat Schultz effens beledig gevoel het, is lig verstaanbaar,
want hy was ‘n fris geboude, geoefende stapper, en hier plaas Roome die ondervoede,
gehawende twaalfjarige knaap langs hom! Die tweetal het ons baie laat dink aan
Dawid en Goliat, want Schultz was ruim ses voet lank. Toe almal mooi klaar staan, is
die teken gegee, en daar gaan die vyf-en-dertig deelnemers! (Die baan was omtrent
1000 tree in die rondte, met ‘n skotige opdraande van sewentig tree aan weerskante.)
Toe hulle die eerste maal om die baan gaan, het Schultz en die seun die manne wat
voor hulle weggespring het, ingehaal. Met die vierde rondte om die baan was nog net
Willie Schultz, Gert van Niekerk, Charlie Rademeyer en die seun in die stryd. Die
vyfde rondte het baie gou gegaan, maar die seun het langs die reus gebly. ‘n Rukkie
later het die twee Van Niekerk en Rademeyer laat agterbly. Hoe nader hulle aan die
wenpaal gekom het, hoe groter het die opgewondenheid onder die toeskouers
geword. Dit was duidelik dat die uitslag net tussen “Dawid” en “Goliat” lê. Toe hulle
die laaste skof aanvaar en die teken word gegee, was dit ‘n aardigheid om die 5000
mense te hoor skreeu. Byna of die toeskouers het langs die toue gehardloop en die
tweetal aangemoedig. Met die aflê van die laaste 400 tree na die wenpaal was die
lawaai oorverdowend, want “Goliat” was vasberade om die seun van hom af te skud.
Maar wie sê! Die seun kleef soos klitsgras aan hom, en hoe nader aan die wenpaal
hulle kom, hoe doller word die geskreeu. Bo al die lawaai uit kon ons die boekmakers
hoor bulder: “Evens on the youngster!” “Two to one on Schultz!” Daar was egter geen
kans om nog weddenskappe aan te gaan nie - die publiek was te opgewonde. Die
reus haal uit alles wat hy kan, maar die kaalvoet-seun verdubbel sy treetjies, en op
omtrent dertig tree van die wenpaal loop hulle nog bors aan bors. So het dit gebly tot
op ‘n paar tree van die eindpaal, en toe het Schultz met ‘n laaste kragsinspanning die
lint voor die seuntjie gebreek en die eerste prys van tien sjielings gewen. Die wenner
was doodmoeg en uitgeput. En die seun? Wat het van hom geword? Toe die massa
bewonderaars hom probeer help het, het hy die hasepad gekies en na die tente
gehardloop asof daar niks gebeur het nie! Omdat hy alleen vir die aardigheid
gehardloop het, kon hy nie vir die prys in aanmerking kom nie. Dadelik is daar egter
‘n kollekte vir hom gehou en die mooi bedrag van £6 4s. is ingesamel. As ons egter
die geld aan hom gegee het, sou ons ‘n beroepsatleet van hom gemaak het en dit wou
ons nie doen nie. Ons het dus ‘n klein komitee gestig om vir hom klere ens. te koop.
Die seun se vader wou die geld hê en was baie kwaad oor die besluit. Hy het egter
afgekoel toe ons hom ‘n paar sjielings gee om tabak mee te koop! Die eerste dag se
verrigtings is afgesluit met ‘n byeenkoms van die Debatsvereniging. Wyle Adam
Boshoff was voorsitter en “Baby” (Hendrik) Mentz, tans ‘n amptenaar in die staatdiens,
sekretaris. Die debat het gegaan oor die onderwerp: “Is ‘n advokaat geregtig om ‘n
beskuldigde te verdedig wel wetende dat hy skuldig is?” Glaeser was die inleier en
Houtsager teenstander.
Na ‘n lang en interessante debat het Glaeser met die beslissende stem van die
voorsitter gewen. Die volgende more was die lug betrokke, maar die gevreesde
motreën het weggebly. As die eerste dag se verrigtings ‘n sukses was, dan was die
tweede dag s’n ‘n nog groter sukses weens die groot verskeidenheid van die program.
Die toutrekkery was baie interessant, maar aangesien twintig spanne hulself vir hierdie
nommer ingeskryf het, kon maar net ‘n paar van die wedstryde dadelik plaasvind en
moes die res van die lang item later trapsgewyse afgehandel word. Die finale
oorwinning is behaal deur die span waarvan ek kaptein was. Die hinderniswedloop
was baie interessant vanweë die baie moeilikhede wat die deelnemers moes oorwin.
Die botterpaal was opgerig vir die “Black Watch” - die klonkies wat met die slag van
Paardeberg as agterryers van Cronjé se manskappe gedien het - en dit was ‘n
aardigheid om die swart jongspan teen die glibberige paal te sien opklouter om die
prys van vyf sjielings in die hande te probeer kry.
In die namiddag het die Hollanders onder Beunk ‘n pragtige vertoning van swaard-,
lang- en kortstokgevegte en ‘n uitstekende gimnastiek voorstelling gegee, wat die
bewondering sowel van die krygsgevangenes as van die aanwesige Engelse opgewek
het. Met ‘n vuisgeveg van vier rondtes tussen Willie Parker en Gert Pienaar was die
verrigtings van die tweede dag afgeloop.
10 Oktober! Ons president se verjaarsdag, en hy sit in ballingskap daar in die verre
Europa. Sal hy ooit weer sy geliefde land sien? Sal hy soos ‘n seevierende
oorwinnaar terugkeer, of sal hy terug kom gebroke na gees en liggaam? Mag die
Here dit verhoed!
Die dag is deurgebring met krieket-en tenniswedstryde en met ‘n rugbywedstryd
tussen “Republikeine” en “Federale” onder kapteinskap van Morkel en Nel
onderskeidelik. Die “Federale” het met ‘n skepdoel gewen.
Lank voor agtuur die aand het daar al ‘n groot menigte voor die ingang van die ruim
saal gestaan. ‘n Klein toegangsfooi is gevra, want anders sou daar in alte groot
gedrang en verwarring ontstaan het. Elkeen het sy eie bankie of stoeltjie
saamgebring. Presies om agtuur het die wye deure oopgegaan om almal met kaartjies
binne te laat, en daarna het hulle opgebly, sodat diegene wat nie sitplek kon kry nie,
ook alles kon sien. Almal het met bewondering die versiering van die saal aanskou.
Dit het bestaan uit ‘n bont menigte vlae en wimpels kunstig langs die mure gerangskik,
hier en daar met groen varings en palmtakke deurvleg. Die vlae van feitelik al die
lande in die wêreld het daar in die saal gehang, tot selfs die Union Jack. Die
Transvaalse en Vrystaat se vlae het regs en links van die verhoog die ereplekke
beklee. Die toneelbekleding was in die hande van Erich Mayer, op bekwame wyse
deur ‘n Franse krygsgevangene bygestaan. Die gordyn voor die verhoog was werklik
‘n meesterstuk. Die wapens van Transvaal en die Vrystaat het in hul ware kleure
daarop gepryk, en op elke hoek was daar ‘n lewensgroot portret van genl. Piet Joubert,
genl. Louis Botha, genl. Christiaan de Wet en genl. Koos de la Rey geskilder, omsoom
met palmtakke.
Voorsitter Houtsager het al die aanwesiges welkom geheet in ‘n roerende toespraak
wat menige stille traan veroorsaak het. Toe die gordyn opgaan en die skare die
pragtige toneel bekleding aanskou het daar ‘n oorverdowende gejuig losgebars,
waarop die orkes die twee Volksliedere gespeel het. Staande het die menigte uit volle
bors saamgesing. Die versiering agter op die verhoog het bestaan uit ‘n skildery in
lewensgrootte van ons Presidente, in volle ampsgewaad, besig om mekaar die hand
te reik. Die twee figure op die doek was omring van palmtakke, terwyl om die rand
van die skildery ook palmtakke gepryk het. Die program het bestaan uit ‘n toneelstuk,
‘n opvoering deur ‘n troep “Christy Minstrels” (wat ons baie laat lag het), ‘n strykorkes-
opvoering onder leiding van Sausenthaler, Bosman en Rowe, ‘n sangstuk deur Hennie
Louw en ‘n gedig “Paul Kruger” deur Joseph Kühn (vandag ds.), ‘n kornetsolo deur
Antonie Raubenheimer, en die “Welhemus” en “Wien Neerlands Bloed” deur die
Hollandse Koor. Die slotwoord is deur ondervoorsitter, Max Theunissen, gelewer, en
by die uitgaan het menigeen van ons die versugting geslaak dat ons die volgende
feesviering op 10 Oktober in ons dierbare Suid-Afrika mag hou.
Daar heers groot opgewondenheid in die kamp en “Snelvuur” is woedend, want een
van die gevangenes - ‘n Amerikaner - het ontsnap. Hoe hy dit reggekry het, het
maande lank ‘n geheim gebly, totdat daar op ‘n dag ‘n brief van hom uit Amerika
aangekom het. Daarin het hy vertel dat hy op die dag van sy verdwyning van die
eiland na ‘n Amerikaanse walvisvaarder in die baai geswem het. Sy landgenote op
die boot het hom met oop arms verwelkom en veilig na die Verenigde State gevoer.
Die Russiese prins het sy belofte nagekom om ons geld te stuur vir die grafsteen wat
ons op die eiland wil oprig ter gedagtenis aan die krygsgevangenes wat hier gesterf
het, want ons het vandag ‘n bedrag gelykstaande met £25 in Engelse geld van hom
ontvang. Hierdie geld maak ‘n mooi bedraggie uit saam met die pennies en tiekies
wat ons reeds in die kamp ingesamel het vir die lofwaardige doel.
Die kamp-afslaer, een van ons eie manne, het vandag ‘n vendusie van Boere-
kuriositeite gehou, en die opkoms, meestal bestaande uit Engelse offisiere en soldate,
was baie bevredigend. Onder meer is te koop aangebied handskoendosies, pragtig
gepoleer en met fluweel uitgevoer. Hulle was gemaak van die hout van ‘n ou klavier
wat een van ons mense êrens op die lyf geloop het, en toe hulle onder die hamer kom,
het die afslaer welsprekend aan die kopers vertel dat dit nog ‘n klavier was waarop
Napoleon gespeel het! Hierdie mededeling het die bieëry vinnig laat opskiet, met die
gevolg dat die dosies elkeen teen ‘n hoë prys van die hand gesit is.
Daar heers groot teleurstelling en bittere verontwaardiging in die kamp by die tyding
dat die Duitse keiser geweier het om ons geliefde President te ontvang. “Wat omtrent
die telegram van gelukwensing met die mislukte Jameson-strooptog?” hoor ‘n mens
nou aan alle kante. Ons het nog altyd die hoop gekoester dat hy met ons simpatiseer
en op die regte oomblik in die bresse sal tree en sê: “Tot hiertoe en nie verder nie!”
Maar helaas, dit is weer ‘n geval van “Vest op Prinsen geen vertrouwen”, soos die
Psalmdigter van ouds dit so pragtig en kernagtig uitdruk.
Die Engelse konkel van ons mense om om die eed van getrouheid af te lê. Die ergste
van alles nog is dat daar manne onder ons is wat hulle as agente vir hierdie werk laat
gebruik. Hulle skroom nie om die minderbevoorregtes onder die krygsgevangenes
met allerlei vals verklarings te mislei nie. So vertel hul o.m. dat die gene wat die eed
aflê, dadelik na hul vrouens en kinders teruggestuur sal word, dat die oorlog verby is
en dat nog net ‘n handjievol Boere rondtrek en van roof en steel leef. ‘n Klompie
oorlopers het al die kamp verlaat en woon nou in die “Refugee” -kamp, deur ons die
Jam-kamp genoem.
Daar was veral een persoon wat baie met sy godsdiens te koop geloop en met ‘n
fariseërgesig meestal onder ons ouer mense sy streke uitgehaal het. Wat hy gedoen
het, was om die manne ‘n dokument te laat teken waarvan hy voorgee dat dit ‘n
aansoek om ‘n nuwe Bybel of gesangboek was. Tot hul ontsteltenis het die manne
egter later ontdek dat die dokument ‘n plegtige verklaring van trou aan die koning van
Engeland en sy opvolgers was, want onderwyl hul nog geduldig op die Bybels gewag
het, is die ongelukkige manne aangesê om die kamp te verlaat en hul intrek in die
“Refugee”- kamp te neem. Die verontwaardiging onder die krygsgevangenes was so
groot dat daar dadelik ‘n kommissie benoem is om ondersoek in te stel en handelend
op te tree. Onder die lede van die kommissie was komdt. Sarel Eloff, Adam Boshoff,
Jack Smith en D. Malherbe. Nadat die saak grondig ondersoek is, is die valsaard met
geweld uit die kamp gesit. Sy huisie is verbrand en ‘n kruis daar in die grond geplant
as teken dat die plek vervloek is. Verder is ‘n waaksaamheidskomitee aangestel om
‘n oog te hou oor die doen en late van verdagte persone. Wanneer ‘n geval van onraad
ontdek is, is die beskuldigde voor die hof van sy mede-krygsgevangenes gebring,
waar aan hom alle geleentheid gegee is om sy onskuld te bewys. Slaag hy daarin of
bestaan daar selfs die geringste mate van twyfel, dan word hy met rus gelaat. Is die
bevinding egter dat hy skuldig is, word hy sonder enige verdere formaliteite beetgepak
en in ‘n sloot “gedip”. Hy kruip daaruit besmeer van kop tot tone en word op staande
voet uit die kamp geja, sonder die geleentheid om homself te reinig.
Wanneer so iemand deur ons uit die kamp verban is, het ‘n afdeling soldate altyd ‘n
rukkie later die aardse besittings van die nuwe Britse onderdaan kom haal en na die
“Refugee”-kamp geneem. Hy het dit natuurlik nooit weer gewaag om self na ons kamp
daarvoor terug te keer nie.
Ons parool is met twee dae in die week ingekort omdat dit nie raadsaam sou gewees
het om ons gelyktydig met die inwoners van die “Refugee”-kamp uit te laat nie.
Laasgenoemdes was op parool vrye Britse onderdane op ‘n Britse eiland. Of hulle hul
vryheid geniet het, is egter ‘n ander vraag, want die eiland-bewoners het hulle met
agterdog beskou en in baie gevalle selfs met stilswyende minagting bejeën. Verskeie
van die eilanders het hulle ook hul huise verbied. Toe ons nog besig was om die kamp
te suiwer en waar nodig die dip-metode streng toe te pas, is ons voormanne
herhaaldelik deur die kampowerheid gewaarsku dat daar drasties opgetree sou word
teen die kommissie van ondersoek en die “dippers”, maar ons het ons nie daaraan
gesteur nie, totdat die Engelse offisier se geduld op ‘n more opgeraak het. Vroeg-
vroeg het ‘n peloton onder bevel van ‘n kaptein en “Snelvuur” sy verskyning in die
kamp gemaak. Die beul is geblaas en toe ons almal bymekaar was het sers.maj.
Skirving die name van die belhamels voorgelees. Nie minder as vier-en-sestig manne
is daardie more gearresteer nie, o.w. komdt. Sarel Eloff, Adam Boshoff, Jack Smith
en Danie Malherbe. Hulle het bevel gekry om hul hoogs nodige goedjies in te pak, en
kort daarna het hulle, omring deur soldate met gevelde bajonette, die kamp verlaat.
Waarheen hulle oorgebring is, het niemand van ons geweet nie, maar as die owerheid
gemeen het om met daardie drastiese stap sy doel te bereik, dan het hy hom deerlik
misgis, want die agterblywendes was nou meer vasberade as ooit om die kamp van
valsaarde te suiwer - wat ons ook reggekry het!
Sterk drank word reeds lankal in die kamp ingesmokkel en teen ‘n groot wins sopie-
gewyse van die hand gesit. Dat hierdie gevaarlike bedryf besonder winsgewend was,
sal uit die volgende blyk. Rum was in Jamestown te kry teen twee of drie sjielings per
bottel, en die smokkelaar het dit in die kamp verkoop teen 6d. per sopie (omtrent twee
vingerhoede vol), sodat hy ‘n wins van tussen 800 en 900 persent gemaak het.
Byna iedere week het ‘n skraal klein Hollandertjie, laat ons hom maar Jan noem, die
kamp verlaat met ‘n platboom-waentjie wat hy aansleep. As die wagte wat sy pas
moet nasien miskien nuuskierig word en vra wat hy met die hout gaan doen, dan kom
die gevatte antwoord dat hy by Deeson en Longwood gaan kap omdat daar geen byle
in die kamp is nie. Vanaand as hy terugkom, is sy onskuldige waentjie met dun
dennetakkies opgelaai, en as die nuwe wag wat dan op diens is, vra wat hy met die
takkies wil aanvang, dan klink die antwoord dat hy dit wil gebruik om vuur mee toe
maak omdat die hout in die kamp groen en nat is. Sy plan het uitstekend beantwoord,
want die waentjie het ‘n vals bodem gehad, en elke keer wanneer dit die kamp
binnegekom het, was daar ‘n kosbare vrag van twaalf bottels rum of ‘n ander soort
drank in weggesteek. Maar aan alles kom ‘n end, en ook hieraan is ‘n end gemaak
deur iemand wat dit by die owerheid gaan verklap het. Op ‘n namiddag toe Jan weer
houtgerus by die kamphek aankom om hom aan te meld, het die verpletterende
woorde in sy ore geklink dat die sersant eers sy waentjie gaan ondersoek! Na ‘n rukkie
het die sersant ook werklik twaalf bottels rum te voorskyn gebring. Die waentjie is in
beslag geneem en Jan gevonnis tot enkele dae opsluiting in die waghuis, terwyl sy
parool ook vir ‘n dag of drie stopgesit is. Boonop nog was hy sy kosbare vrag kwyt.
Hy was egter nog vol moed, want toe een van sy maats hom vra hoe hy oor die groot
verlies voel, was sy antwoord dat hy dit kan bekostig om af en toe ‘n “konvooi” aan die
dorstige Engelse af te staan. Verder het hy te kenne gegee dat hy nog baie planne
gehad het en gou weer drank sou insmokkel.
Ons het tyding ontvang dat die vier-en-sestig man wat deur die owerheid uit die kamp
verwyder is, in die fort op High Knoll opgesluit is. Dadelik het ons tabak en sigarette
en ander snoeperye vir hul bymekaar gemaak. Om hulle te help om die tyd te verdryf,
het ons hulle ook damborde, skaakspele en speelkaarte gestuur, want al wat hulle
vanuit hul gevangenis kon sien, was die blou hemel bo hulle. Tog het ons verneem
dat hulle in die omstandighede heeltemal gelukkig voel, want die besef dat hulle vir ‘n
regverdige saak ly, het hulle opgebeur.
Daar is weer sterk drank in die kamp te kry, maar hoe Jan dit insmokkel, is vir almal
‘n raaisel, want hy word baie streng gevisenteer as hy soggens die kamp verlaat en
saans weer binnekom. Dat Jan se vernuftige brein ‘n plan uitgedink het om die wagte
om die bos te lei, word egter deur niemand betwyfel nie. Soos ek reeds vermeld het,
het die hoekpale van die meeste hutte in “Blikkiesdorp” uit garingboompale bestaan,
en elke dag het van ons mense van die pale na die kamp gebring om nuwe hutte
daarmee te bou. Jan was een van die huisbouers, maar die verskil tussen sy pale en
die van sy makkers was dat syne uitgehol en volgestop was met bottels drank.. Op
hierdie wyse het hy die skade op sy verlore konvooi dubbel en dwars ingehaal, totdat
hy weer betrap is en sy tweede konvooi in die hande van die vyand moes laat.
Ons skool, wat onder die bekwame leiding staan van manne soos Attie Fourie, Jack
Retief, Karl Winter, C. Mynhardt, H. Webb, Sausenthaler en Kat, om maar net ‘n paar
te noem, maak uitstekend vordering. Die eerste eksamen sal binnekort plaasvind en
daar is ‘n hele paar kandidate wat hulself voorberei vir die Kaapse “Elementary” - en
Skoolhoër -eksamens. Ds. Louw is deur die Kaapse onderwys-owerheid as
kommissaris aangestel. Dat almal nie gebruik gemaak het van hierdie gulde
geleentheid om kennis op te doen nie, is baie jammer, en daar is seker vandag nog
baie wat hul hare uit hul kop wil trek omdat hulle die kans laat verbyglip het. Meer as
een het hier in die skool op St. Helena die hegte fondament vir sy later loopbaan gelê.
Op geestelike gebied gaan dit ook voorspoedig. Die Strewersvereniging en
Jongeliede-vereniging onder die bekwame leiding van ds. Louw en ds. Ennis met hul
wakker medearbeiders doen uitstekende werk, want van soggens vroeg tot saans laat
is hierdie toegewyde werkers besig met vroeë bidure, katkisasieklasse, kerkdienste
(in twee sale), Christelike debatte, siekebesoek ens. Ek dink nou nog aan die ernstige
opwekkingsdienste gehou deur ds. Louw en aan die bemoedigende boodskappe deur
hom gegee aan menige verbryselde hart. Hy het vir geen taak teruggedeins nie, hoe
moeilik en hoe netelig dit ook al was. Wat die wakker Abie Louw vir ons beteken het
in die donker dae sal nooit vergeet word nie.
Ons eerste krieketspan het ‘n uitdaging aan die Engelse gestuur tot ‘n vriendskaplike
wedstryd en hulle het dit aanvaar. Op die vasgestelde more het ons elftal met
skeidsregter en teller die kamp verlaat, natuurlik nie gekleed in die welbekende wit
broeke en wit skoene nie, want dit was ‘n weelde wat ons onsself nie kon veroorloof
nie. Ons moes maar tevrede wees met ons gewonde kampklere. Nie een van ons
was eintlik optimisties oor die uitslag van die wedstryd nie, want ons het geweet dat
krieket die Engelse se nasionale spel is, en buitendien was daar verskeie offisiere in
hul elftal wat baasspelers was. Tussen hakies, ons kon die Engelse nooit beweeg om
rugby teen ons te speel nie - dit het baie gelyk of hulle bang was vir ons nasionale
spel. Die Engelse span het eerste gekolf, en toe ons aan die beurt kom, het ons
dadelik gesien dat daar geen Johnnie Sinclair, Dave Nourse of ‘n Kotzé onder een van
die twee spanne was nie. Die uitslag was egter dat die krygsgevangenes met twee
paaltjies gewen het, wat werklik net te danke was aan Jack Smith se blitsvinnige
boulwerk. Die offisiere en soldate het ons kêrels so goed onthaal dat niemand vir
daardie uur kon dink dat daar ‘n stryd om lewe en dood tussen die twee volke aan die
gang was nie. Aan tee, koffie en koek het dit nie ontbreek nie, en daar was selfs
whisky vir diegene wat dit wou hê. Later het daar ook ‘n tenniswedstryd plaasgevind
tussen twee van ons manne, nl., Willie Parker en Nap van Ryneveld, en twee van hul
baasspelers, wat ook deur ons span gewen is.
Vier van ons manne is van ‘n Amerikaanse walvisvaarder afgehaal toe hulle ‘n poging
aanwend om te ontvlug. Hierdie ongeluk sou hulle nie getref het nie as een van hulle
nie in die opgewondenheid van die oomblik of deur nalatigheid sy reddingsgordel (wat
van beskuitblikke gemaak was) êrens op die agterdek van die skip opgehang het nie.
Die viertal, wat saam met ander krygsgevangenis in Jamestown gewerk het, het op ‘n
donker aand van die wal na die skip geswem, ten spyte van die haaie in die water en
die immer waaksame soekligte van die oorlogsbodem Niobe. Op die skip aangekom
het die vlugtelinge hulself tussen die vate walvis-olie versteek. Toe hul afwesigheid
die volgende more in die kamp of Jamestown ontdek is daar dadelik na Deadwood-
kamp getelefoneer om uit te vind of hulle nie miskien daar aangekom het nie. Die
antwoord was ontkennend en dadelik is ‘n soektog op tou gesit en die Niobe ook van
die geval in kennis gestel. Een van die offisiere op die oorlogskip het met sy sterk
verkyker ‘n blink voorwerp op die agterdek van die walvisvaarder gesien wat vir hom
baie verdag gelyk het. Dit het dadelik sy agterdog verwek, en die kaptein van die
oorlogskip het ‘n bootjie na die walvisvaarder gestuur. Die Engelse se versoek om die
skip te mag visenteer, is toegestaan, en na ‘n rukkie het hulle die vier vlugtelinge
nakend tussen die olievate gevind. Dit het ‘n bietjie oponthoud veroorsaak, want daar
moes eers klere van die eiland gehaal word voordat die gevangenes vervoer kon word.
Al straf wat hulle gekry het, is dat hulle na die kamp op Deadwood teruggestuur is.
Sterk gerugte doen die ronde dat ons mense vredesonderhandelinge met die vyand
voer, maar ons glo nie ‘n woord daarvan nie en gaan voort met die voorbereiding vir
die groot konsert wat ons organiseer ter ere van die vier-en-sestig manne wat in die
fort of High Knoll opgesluit is, want ons is so pas offisieel in kennis gestel dat hulle na
die kamp terugkeer. Almal verlang om weer die dapper manne te sien wat vier
maande so swaar gely het vir hul oortuiging. Oral staan groepies manne en gesels,
en aan alles kan ‘n mens merk dat hulle moeilik hul opgewondenheid bedwing.
“Daar kom hulle!” roep iemand uit, en dadelik weergalm die oorlogskreet “Holder” deur
die kamp. Die menigte storm na die hek en drom aan weerskante van die pad saam.
Ja, daar kom hulle aan. Komdt. Eloff en Adam Boshoff loop voor, en twee-twee stap
die vier-en-sestig na die saal, met die kamp-orkes voorop. Laasgenoemde het hulle
begroet met “Zie de Overwinnaars Komen” en ook ons geliefde twee volksliedere. In
die saal het dit nie ontbreek aan tee, koffie en koek nie, terwyl die Hollandertjie, wat
weer op die oorlogspad was, gesorg het vir iets sterker. Daardie aand is ‘n konsert
gehou wat uitstekend bygewoon is en ‘n groot sukses was.
Die Strewersvereniging se koffiekamer, wat deur ‘ bekwame komitee beheer word,
doen uitstekende sake, en al die winste word aangewend ten bate van
hulpbehoewendes. Slabber se pannekoek-winkel is een van de besigste plekke in die
kamp, want van smorens vroeg tot middernag het hy ‘n stuk of tien panne gedurig aan
die gang om voor te kan bly met die uitvoering van die bestellings. Hy verskaf ses
pannekoeke (natuurlik sonder eiers gemaak - net meel, kaneel en ‘n bietjie suiker) en
‘n koppie koffie vir ses pennies, en dat die toeloop baie groot is, is dus te verstaan.
John de Meillon doen ook goeie sake met sy beroemde beessult, wat hy teen ses
pennies per bord verkoop.
Drank is weer verkrygbaar in die kamp, ‘n stelling bewys dat Jan al weer ‘n
splinternuwe plan uitgedink het. Hoe hy dit hierdie keer oorlê het, was ‘n lang tyd
alleen aan vier van sy medegevangenes beken, wat weens een of ander ligte
oortreding in ‘n tent buite die kamp onder toesig van ‘n wag opgesluit was. Jan, wat
op besoek aan Jamestown was, het op ‘ Saterdagnamiddag by die waghuis aangekom
om hom, na gewoonte, aan te meld. Ongelukkig het hy daardie dag ook Bacchus
aanbid, met die gevolg dat hy dadelik in hegtenis geneem en by die vier stuks wat
reeds in die tent was, gevoeg is. Sodra die soldate wat hom daarheen gebring het,
weg was, het hy aan die manne in die tent gevra om sy bo-klere uit te trek. Hulle kon
hierdie eienaardige versoek nie eintlik verstaan nie, maar het nietemin daaraan
voldoen. Tot hul verbasing sien hulle dat hy ‘n gordel om sy bo-lyf vasgegespe het,
en in die gordel steek daar verskeie bottels drank. Hulle het hom dadelik van die vrag
bevry en dit in die sand onder die kooigoed begrawe. Toe hulle meen dat alles veilig
is, het hulle daaraan begin proe, met die gevolg dat dit nie lang geduur het nie of
allerhande liedjies het lustig daar uit die tent opgeklink! Hoe die vyftal in so ‘n
opgeruimde toestand geraak het, was vir die wag ‘n raaisel. Sondag het verbygegaan
en Maandagmore is die vyf - wat elkeen net fluks hoofpyn gehad het! - voor die
kolonel gedaag op aanklag van rusverstoring. Hulle het natuurlik nie die geheim
verklap nie en die enigste gevolgtrekking waartoe kol. Evans kon kom, was dat een of
ander simpatieke soldaat hulle van drank voorsien het. Die uitslag van hul onderhoud
met die kolonel was opsluiting vir nog ‘n week.
Wanneer ‘n krygsgevangene onder arres was, moes die “mess” waarvan hy lid was,
sorg dat hy gereeld sy ete kry, wat ook met ons vyftal gebeur het. Daardie aand het
hulle soos gewoonlik hul droë brood en bekers koffie ontvang. Jan het sy koffie in ‘n
swart bottel gekry. Die wag, wat agterdogtig was, het eers die prop uitgetrek en goed
aan die inhoud geruik om homself te oortuig dat dit werklik koffie was voordat hy die
bottel oorhandig. Toe hy buite die tent was, het Jan die bottel omgekeer en tot
verbasing van sy makkers al die koffie laat uitloop. Daarna het hy ‘n potlood geneem,
dit deur ‘n harde vetlaag in die bottel gesteek - en onder in was ‘n regmakertjie vir
elkeen! Sy maats wat hom die koffie gestuur het, het nl. die bottel driekwart met rum
gevul en daarna warm vet bo-op gegooi. Toe die vet koud was, het hulle die bottel
versigtig uitgespoel en met ‘n bietjie onskuldige koffie opgevul wat nie eens lou-warm
was nie.
Toe Jan sy agt dae uitgedien het, het hy die tent verlaat met die gordel weer om sy
lyf, maar hy is later betrap en sy derde “konvooi” het in die slag gebly.
Na die vredesluiting het die Britise regering met stelselmatige repatriasie van die
krygsgevangenes begin. Sommige van die krygsgevangenes het besluit om op die
eiland agter te bly. Een so persoon was Charles John Smith, ‘n neef van Generaal
Ben Viljoen. Hy was gedurende sy gevangeneskap ‘n bakker en het brood en koek
aan sy medekrygsgevangenes verskaf. Na die vredesluiting het hy besluit om ‘n
stukkie grond op St. Helena te koop en daar te boer.
Die oorgrote meerderheid het egter besluit om terug te keer na hul tuisland, min
wetend wat hul daar sou vind. Baie het sekerlik teruggekeer na afgebrande murasies
en verlore graffies van hul vroue en kinders. In totaal is daar 179 burgers op die eiland
oorlede gedurende hul gevangenisskap. Die oorledenes is op ‘n steil helling in die
Baptiste Kerk se begraafplaas te ruste gelê nadat die Anglikaanse Kerk op die eiland
geweier het om hulle op “consecrated ground” te begrawe. Slegs twee van die grafte
het grafstene gehad. In 1913 het die Suid-Afrikaanse regering twee imposante
gedenktekens van rooigraniet vir die oorledenes opgerig.
Transvaalse Volkslied
Kent gij dat volk vol heldenmoed
En toch zo lang geknecht?
Het heeft geofferd goed en bloed
Voor vrijheid en voor recht
Komt burgers! laat de vlaggen wapp'ren
Ons lijden is voorbij
Roemt in de zege onzer dapp'ren
Dat vrije volk zijn wij!
Dat vrije volk, dat vrije volk
Dat vrije, vrije volk zijn wij!
Kent gij dat land zo schaars bezocht
En toch zo heerlijk schoon
Waar de natuur haar wond'ren wrocht
En kwistig stelt ten toon?
Transvalers! laat ons feestlied schallen
Daar waar ons volk hield stand
Waar onze vreugdeschoten knallen
Daar is ons vaderland!
Dat heerlijk land, dat heerlijk land
Dat is, dat is ons vaderland!
Kent gij die Staat, nog maar een kind
In 's werelds Statenrij
Maar toch door 't machtig Brits bewind
Weleerd verklaard voor vrij?
Transvalers! edel was uw streven
En pijnlijk onze smaad
Maar God die uitkomst heeft gegeven
Zij lof voor d'eigen Staat!
Looft onze God! looft onze God!
Looft onze God voor land en Staat
Transvaalse Volkslied
Heft, Burgers, ’t lied der vrijheid aan
En zingt ons eigen volksbestaan!
Van vreemde banden vrij,
Bekleedt ons klein gemenebest,
Op orde, wet en recht gevest,
Rang in der Staten rij.
Rang in der Staten rij.
Al heeft ons land een klein begin,
Wij gaan met moed de toekomst in,
Het oog op God gericht,
Die niet beschaamt wie op Hem bouwt,
Op Hem als op een burcht vertrouwt,
Die voor geen stormen zwicht.
Die voor geen stormen zwicht.
Zie in gena’ en liefde neer
Op onze President, o Heer!
Wees Gij zijn toeverlaat!
De taak, die op zijn schouders rust,
Vervulle hij met trouw en lust
Tot heil van volk en staat!
Tot heil van volk en staat!
Bescherm, o God, de Raad van’t land,
Geleid hem aan Uw vaderhand,
Verlicht hem van omhoog,
Opdat zijn werk geheiligd zij
En vaderland en burgerij
Ten zegen strekken moog’!
Ten zegen strekken moog’!
Heil, driewerf heil de dierb’re Staat,
het Volk, de President, de Raad!
Ja, bloei’ naar ons gezang
De Vrijstaat en zijn burgerij,
In deugden groot, van smetten vrij,
Nog tal van eeuwen lang!
Nog tal van eeuwen lang!
Burgers wat gesterf het op St. Helena
Johan Jakob Johansson ‘n Skandinawiese vrywilliger. Van verkeerdelik geskryf as
Jakobsson, begrawe in graf nommer 18a.
Matts van Laggnäs, Finse vrywillger, naam ontbreek.
Willem Jacobus Johannes Marnewick
Rudlph Johannes van den Berg
A.F. Ter Meulen 27 jaar oud
G. Gerbere 29 jaar oud
T.P. Pieterse 40 jaar oud
J.P.L.v.d. Berg .. 31 jaar oud
J.J. Grobler ... 51 jaar oud
J. Boltman .... 40 jaar oud
W.J. Oosthuizen . 33 jaar oud
J.F. Roselt .... 29 jaar oud
J.F. Viljoen ... 20 jaar oud
S.P. du Plessis .. 34 jaar oud
R.J.v.d. Berg .. 50 jaar oud
G.J.C. Deysel .. 45 jaar oud
R.A. Opperman . 22 jaar oud
J.J. de Beer .... 17 jaar oud
G.J. van Zyl ... 41 jaar oud
F. Wehlan .... 40 jaar oud
W.A. Hallat ... 26 jaar oud
A.J. van Wyk ... 54 jaar oud
G.C. Lindeque .. 65 jaar oud
G.J. du Toit ... 33 jaar oud
J. Johnson .... 24 jaar oud
F. Correlis .... 21 jaar oud
J.A. Steyn .... 56 jaar oud
G.R. Loggrenberg . 19 jaar oud
P.C.J. Faber ... 51 jaar oud
H.W. Buys .... 21 jaar oud
C.J.H. du Plooy . 64 jaar oud
F.H. McDonald .. 27 jaar oud
M.T. Goddefroy . 19 jaar oud
S. Dobeich .... 34 jaar oud
C.P. Brand .... 27 jaar oud
J.P. Steyn .... 18 jaar oud
D.J. Lubbe .... 47 jaar oud
P.J. Badenhorst .. 25 jaar oud
M.C. Rosslee ... 18 jaar oud
I.J. Oberholzer .. 35 jaar oud
M.J.H. Boshoff .. 30 jaar oud
F.A. Gerber ... 27 jaar oud
A.F. Termeulen .. 25 jaar oud
W. Nielsen .... 25 jaar oud
F.P. Pieterse ... 39 jaar oud
C.E. Blignaut ... 45 jaar oud
H. Krause .... 66 jaar oud
H. Venter...... 43 jaar oud
C.J. Geyer .... 61 jaar oud
J.P. Mostert ... 48 jaar oud
D.G. Fouche ... 27 jaar oud
B.J. van Zyl ... 42 jaar oud
J.S. du Toit ... 40 jaar oud
P.A. Kotze .... 37 jaar oud
A.F. Dreyer ... 48 jaar oud
J.J. Smit ..... 27 jaar oud
J.J. Buitendach .. 45 jaar oud
J. van Deventer .. 62 jaar oud
A.M. Muller ... 44 jaar oud
J.J. Meintjies ... 35 jaar oud
J. Toeset ..... 32 jaar oud
M.J.S. de Kock . 65 jaar oud
J.T. Martens... 57 jaar oud
W.J.C. van Rensburg 33 jaar oud
J.S. Venter ... 64 jaar oud
A. Kleinhans ... 58 jaar oud
F. van de Vlugt .. 43 jaar oud
F.A. Naude ... 48 jaar oud
J.F. Naude .... 30 jaar oud
T. van Sittert ... 19 jaar oud
J.F.Otto ..... 45 jaar oud
J.C. Schoeman .. 46 jaar oud
G.F. Lubbe ... 33 jaar oud
G.A. Fritz .... 30 jaar oud
N.S. Maritz ... 48 jaar oud
J.J. Brits ..... 34 jaar oud
J.L. Pretorius .. 31 jaar oud
S.J. du Plooy ... 46 jaar oud
A. McGrath .... 51 jaar oud
F.J. Labuschagne 54 jaar oud
J.H. Broese ... 48 jaar oud
C. de J. Bloem .. 53 jaar oud
R.S. Meyer .... 16 jaar oud
P.F. Bosman ... 39 jaar oud
H.J. Bantjes ... 20 jaar oud
J.H. Hattingh .. 60 jaar oud
C.W. Rooyen .. 47 jaar oud
J.C.S. Fourie ... 60 jaar oud
H.F. Cox .... 34 jaar oud
A. Viljoen .... 32 jaar oud
M.J. Buitendach . 51 jaar oud
H. Roos ..... 22 jaar oud
J.P. Meintjies ... 60 jaar oud
J.F. Oosthuizen .. 53 jaar oud
A.J. Heefer ... 49 jaar oud
G. Fairchild .... 35 jaar oud
I.S. le Roux ... 36 jaar oud
A.M. Meiring .. 74 jaar oud
C.P. Joubert ... 60 jaar oud
F.P.J. Botha ... 46 jaar oud
J.G. Beneke ... -
R.P. Diedericks .. 19 jaar oud
R.F. du Plessis .. 47 jaar oud
C.J. Beukes .... 64 jaar oud
E.J. Meyer .... 29 jaar oud
F.N. Joubert ... 33 jaar oud
J.J.S. Kemp ... 37 jaar oud
P.C. Snyman ... 45 jaar oud
L.C. Taljaard ... 62 jaar oud
D.J.A. Koekemoer . 24 jaar oud
J.S. Malan .... 62 jaar oud
W.J. Snyman (Comdt) ..... 36 jaar oud
M.J. Mathyssen .. 62 jaar oud
W.N. Pienaar .. 21 jaar oud
D.J. van Niekerk . 57 jaar oud
A.N. Pienaar ... 27 jaar oud
G.P.S. Badenhorst ... 33 jaar oud
H.J. Badenhorst .... 58 jaar oud
J.J. Barkhuizen .... 55 jaar oud
J.D. Beneke ...... 53 jaar oud
D.A. v. d. Berg ... . 33 jaar oud
v.d. Berg .... - jaar oud
P.V. Biljoen ...... 37 jaar oud
B.N. Botes ... . 68 jaar oud
F. Botha ... .. -
F.W. Botha ...... 24 jaar oud
S.F. Botha ...... 31 jaar oud
R.J. Buitendag ..... 28 jaar oud
N.P. Campher ..... 17 jaar oud
P. Daffne ..... 52 jaar oud
W.P.V. Deventer ... 46 jaar oud
S.C. Dirker ...... 29 jaar oud
A.J.S.V. Emmenis .. 24 jaar oud
J. Erikson ... . 31 jaar oud
C.F. Ferreira ..... 22 jaar oud
F.S. Grobbelaar .... -
J.S. Grobbelaar .... 20 jaar oud
D.J. Harmse ...... 25 jaar oud
Dr G.A. Harmse .... 20? jaar oud
S.A. Harmse ...... 16 jaar oud
S.F. Ingerer ...... -
W.J. Jordaan ..... 29 jaar oud
P.P.J. Kruger ..... 19 jaar oud
J.C. Lademan .... 26 jaar oud
A.H. Lamprecht .... 24 jaar oud
B.J. Liebenberg .... 74 jaar oud
S.P.v.d. Linde .... 65 jaar oud
P.S. Lubbe ...... 32 jaar oud
J.J. Marnewick .... 61 jaar oud
B.J. v.d.Merwe .... 42 jaar oud
D.A. v.d.Merwe ... 28 jaar oud
W.A.D.J.C. Nel ... 61 jaar oud
J.C. Oosthuizen .... 30 jaar oud
A.J. Pienaar ...... 34 jaar oud
H.P. Pieters ... ... 31 jaar oud
C.J. Petgieter ..... 33 jaar oud
J.H. Retief ...... 22 jaar oud
M. Breedt ... . -
J.A. Sadie ...... 36 jaar oud
J.C. Schoeman ..... 44 jaar oud
F.A.C. Smit ..... 32 jaar oud
D. de Sousa ...... 27 jaar oud
T.G. Steenkamp .... 56 jaar oud
D. Steyn ... .. -
B.J. Stone ... . 24 jaar oud
J. Strydom ...... 63 jaar oud
J.N.S. Strydom .... 46 jaar oud
H. du Toit ...... 44 jaar oud
A. du Toit ...... -
C.S. Venter ...... 32 jaar oud
P. Viljoen ... . -
A.A. de Villiers .... 29 jaar oud
D.H.J. Vorster .... -
C.J.J. van Vuuren ... 51 jaar oud
C.J. van Vuuren .... 47 jaar oud
C. van Vuuren ..... -
J.D. v.d. Westhuizen .. 41 jaar oud
J.M. de Wet ...... 27 jaar oud
P.J. Willemse ..... 23 jaar oud
J.N. van Wyk ..... 24 jaar oud
F.C. Wynand ..... 21 jaar oud
G.I. van Zyl ...... 19 jaar oud
- Login to edit this profile and add images.
- Private Messages: Contact the Profile Managers privately: Louis Heyman and Susanna Hendrina Elisa de Bruyn. (Best when privacy is an issue.)
- Public Comments: Login to post. (Best for messages specifically directed to those editing this profile. Limit 20 per day.)