- Profile
- Images
Location: [unknown]
Surname/tag: South_African_Roots
Contents |
Wat is transkripsie?
Die woord transkripsie beteken oorskrywing. Daar is 'n geskrif, en iemand skryf dit oor. As jy dus iets transkribeer, sluit jy aan by 'n eeue-oue tradisie van sekretarisse, monnike, klerke ensovoorts, wat kopieë van dokumente gemaak het vir watter doel ook al.
Transkripsies kom op verskillende vlakke van brongetrouheid.
- Literatim beteken letter-vir-letter. Jy besluit wat die letter is, en gee dit weer, of die woord wat sodoende ontstaan dan sin maak of nie. Jy verander nie fuote na foute nie.
- Verbatim beteken woord-vir-woord. Jy besluit wat die woord is, en gee dit weer, desnoods met effense aanpassings om sodat dit duidelik is watter woord bedoel word, sonder om egter in ag te neem of dit in die sin waarin dit staan, sin maak. Jy verander daar is baie fuote die teks na daar is baie foute die teks.
- Krities beteken beoordelend. Jy neem in ag wat die skrywer bedoel het om te skryf, en gee dit weer. Jy verander daar is baie fuote die teks na daar is baie foute in die teks. Klaarblyklike spelfoute word reggemaak, ontbrekende letters en woorde word verskaf (gewoonlik [in vierkantige hakies] of met 'n vraagteken by). Die meeste mense lees krities, dws jou oog en brein maak sulke foute reg. 'n Kritiese transkripsie is dikwels die basis vir 'n kritiese uitgawe, waarin die redakteur nog verdere hulpmiddels verskaf, soos 'n inleiding en verduidelikende voetnotas.
Die aard van jou transkripsie hang van twee dinge af.
- Teikens: Waarheen transkribeer jy?
- Lesers: Vir watter doel transkribeer jy?
Transkripsieteikens
Die einddoel van transkripsie is teks, dit wil sê, 'n aaneenstringing van letters uit 'n sekere alfabet. Uit daardie oogpunt gesien, sou ons by Johann Gutenberg kon begin, maar vir rekenaardoeleindes is daar veral vier alfabette te onderskei.
- DIE HOOFLETTER-ALFABET WAS ALGEMEEN IN DIE BEGINDAE. PROGRAMMEERDERS IS ONDER ANDERE GELEER OM STREPIES DEUR DIE SYFERS 0 EN 7 EN DIE LETTER Z TE MAAK, SODAT DIT ONDERSKEIDELIK VAN DIE LETTER O EN DIE SYFERS 1 EN 2 ONDERSKEI KON WORD. TRANSKRIPSIES NA DIE HOOFLETTER-ALFABET IS VANDAG NOG TE SIEN OP DIE WEBBLAD NAAIRS WAAR ONS VERAL BOEDELS GAAN SOEK.
- Die ASCII-alfabet is ingevoer toe rekenaars kleinletters ook kon gebruik en programmeertale al hoe meer leestekens begin benut het. Dit het 32 onsigbare simbole en 95 sigbares. Jou rekenaar se sleutelbord kan hulle almal met die indruk van een knoppie plus miskien die hoofletterknop maak. Dit bevat geen aksente nie, en as jy iets in Afrikaans wil s^e, moet jy maar oppas vir woorde soos ho"erskool anders verstaan mense jou verkeerd.
- Die ISO-8859-alfabette is ingevoer toe mense in Europa begin dik raak het daarvoor dat 'n naam soos Müller as Mueller geskryf moet word. Dit het 64 onsigbare simbole en 191 sigbares. Daar is ongeveer tien van hulle, waarvan die algemeenste ISO-8859-1 is, wat ál die geaksenteerde letters bevat wat in die tale van Wes-Europa voorkom. WIndows 1252 stem op al 191 sigbare simbole daarmee ooreen.[1]
- Die Unicode-alfabet is ingevoer om die alfabette van alle tale van die wêreld in een groot alfabet saam te voeg. Dit het 65536 simbole. Sy groot nadeel is dat 'n stuk teks in ASCII nie in Unicode dieselfde beteken nie. Byna alle rekenaars gebruik deesdae UTF-8, 'n kruis tussen Unicode en ASCII: geldige ASCII is ook geldige UTF-8, en die ander Unicode-karakters word op 'n slim manier geënkodeer om daarby in te pas. Skouspelagtige effekte is moontlik in UTF-8. Jỳ h́êt̃ b̄y̅v̆ȯör̉b̊e̋ěl̍d̎ m̏e̐ȇr̒ a̓s̔ 100 d̕i̖a̗k̘r̙i̚t̛i̜e̝s̞e̟ t̠e̡k̢ẹn̤s̥ țo̧t̨ j̩o̪u̫ b̬ḙs̮k̯ḭḵk̲i̳n̴g̵ w̶a̷t̸ j̹y̺ n̻a̼ w̽i̾l̿l̀ék͂e̓ǘrͅ o͆p͇ e͈n͉i͊g͋e͌ k͍l͎e͏i͐n͑l͒e͓t͔t͕e͖r͗ k͘a͙n͚ s͛i͜t͝.
Professionele transkripsies soos dié van die Text Coding Initiative word deesdae nie bloot na 'n alfabet gemaak nie, maar eerder na 'n transkripsietaal, wat deur 'n rekenaar gebruik kan word om nog baie meer akkuraat die oorspronklike weer te gee (met byvoorbeeld uitleg en verskillende lettergroottes) as wat 'n alfabet alleen dit sou kon doen. Die enkodering van 'n dokument na so 'n taal sou ook transkripsie genoem kon word, maar val buite die bestek van hierdie artikel.
Transkripsielesers
Daar is veral drie groepe lesers.
- Deskundiges. Daar is 'n vakgebied Diplomatiek, 'n hulpwetenskap van geskiedskrywing, wat handel oor die eienskappe van ou dokumente. 'n Diplomatiese transkripsie is een wat alle eienskappe van die brondokument so getrou weergee as wat die transkripsieteiken dit toelaat.[2] Dii is literatim en respekteer nuwe reëltjies, maar is nie noodwendig besonder getrou nie: selfs 'n transkripsie na die hoofletteralfabet kan diplomaties wees — daar is byvoorbeeld STOP gebruik om 'n punt aan te dui in die dae toe daar nie leestekens was nie.
- Leke. Hieronder verstaan ons nie onkundiges nie, maar wel mense wat nie formele opleiding ontvang het nie, soos ek en jy. Ons is entoesiasties oor ou geskrifte, veral as hulle iets met genealogie te doen het, maar party dinge wat enige student in Diplomatiek 101 leer, is nie vir ons tweede natuur nie. 'n Semi-diplomatiese transkripsie is een wat 'n beperkte mate van wysiging toelaat, binne eng omskrewe perke — byvoorbeeld uitskryf van afkortings en die gebruik van buitekennis om geloofwaardige sienings van moeilik ontsyferbare dele van die dokument te maak — sodat leesbaarheid vir die leek verbeter word sonder om anachronismes in te voer.
- Rekenaars. Ter wille van databasisse word transkripsies soms op 'n vorm gemaak waar sekere datavelde uitgesonder word, bv naam, van, geboortedatum, ensovoorts. Soos byvoorbeeld die bladsy wat verskyn as jy Edit op 'n WikiTree-profiel klik. In so 'n geval behou 'n mens nie die uitleg of selfs die volgorde van die oorspronklike nie: jy soek die stukkies uit wat by elke vakkie op die vorm pas.
Die Suid-Afrikaanse genealogiese transkripsiestandaard
Vir Suid-Afrikaanse genealogie is veral twee bronne van transkripsies van groot belang.
- Transkripsies van Suid-Afrikaanse rekords. Hierdie versameling word in opdrag van eGGSA (die elektroniese tak van die Genealogiese Genootskap van Suid-Afrika) in stand gehou deur Corney Keller en Richard Ball.
- Transkripsies van dokumente van die VOC. Hierdie versameling word deur die Nationaal Archief van Nederland in stand gehou.
Ek het by Corney gaan kers opsteek oor die riglyne waarvolgens die Suid-Afrikaanse transkripsies gedoen word. Dit staan nêrens op skrif nie, maar hy het my verseker dat dit basies ook die Nederlandse transkripsiestandaard is, my na 'n gesaghebbende webblad verwys[3], en die hoofpunte vir my opgesom.
Ek het op Corney se versoek nie sy e-pos verbatim gebruik nie, en enige foute wat hieronder staan, is dus vir my rekening.
Die transkripsiestyl kan as semi-diplomaties geklassifiseer word: verbatim maar nie heeltemal literatim nie, met enkele kritiese aspekte. Dit bly getrou aan die oorspronklike, maar met sekere aanpassings wat geen afbreuk doen aan die inhoud en betekenis nie, maar dit tog meer leesbaar vir die leek maak.
- Alles word in kleinletters geskryf, behalwe hoofletters aan die begin van 'n sin, vir persoonsname, topografiese name en die naam van God.
- Die lang S word as 's' weergegee, nie as ſ nie.
- Die letters 'ij' en 'y' word gebruik soos in moderne Nederlands. As dit klaarblyklik staan vir wat in moderne Afrikaans as 'y' geskryf sou word, word dit in Nederlandse tekste as 'ij' getranskribeer, of die scriba nou kolletjies, 'n penstreep of niks gemaak het nie. As dit egter om etimologiese redes in 'n woord (gewoonlik oorspronklik uit Grieks, Frans ens.) staan, word dit as 'y' getranskribeer, al het die scriba die een of ander kolletjie of strepie gemaak.
- Die letter ú of ù of ŭ bestaan nie as daarmee die letter 'u' bedoel word nie. Die strepie, krulletjie, aksent, kappie, ens. is nie 'n diakritiese teken nie, maar net 'n manier om die leser te laat besef dat dis nie die letter 'n' nie, maar 'u'. By Franse woorde sien jy soms û, maar dan is dit meestal baie duidelik dat dit 'n Franse woord is waar dit gebruik word.
- Afkortings word uitgeskryf. As 'n mens egter nie weet nie, behou liewer die afkorting net so as om te raai.
- Spelfoute en glipse word nie gekorrigeer nie. Ook word woorde en name waarvan die spelling intussen verander het, nie by moderne gebruik aangepas nie.
- As die oorspronklike 'n nuwe reël begin, doen die transkripsie dit ook.
- As dit ietwat onduidelik is watter letter bedoel word (is dit byvoorbeeld 'n effens te lang 'i' of 'n effens te kort 'j'?) , mag buitekennis gebruik word om te besluit. Net so met woorde wat dalk aanmekaar geskryf is en dalk apart, of met plekke waar die teks beskadig geraak het en die letters nie meer onderskei kan word nie.
Voorbeelde
Al die voorbeelde behalwe een ('n grootoom) behels voorouers van Dirk Laurie. As enige van hulle ook jou voorouer is, en jy het sterk opinies oor hoe dit gedoen moes gewees het, laat hom asseblief weet.
Die eerste Stellenbosch-huweliksregister
Begin deur die hele inskrywing, eintlik die die volledige foto en selfs 'n raampie voor en na ook, deur te kyk sodat jy gewoond kan raak aan dié spesifieke scriba se hebbelikhede. Sterk hoofletters, swierige d's, e's en j's. Bestee 'n paar minute aan die foto sodat dit kan insink voor jy begin tik. Jy sal daardie tyd dubbel en dwars terugkry.
Reg, ons kan begin.
- Die vierde syfer van die jaar is vreemd. 'n Ervare persoon met kennis van hoe die pen moes beweeg het, sal weet dis 'n 8, maar jy kan dit ook weet, want bietjie verder sien jy 1709. Op die vorige raampie, as jy wou loer, is 1705, 1706 en 1707.
- Die naam Johannis Viljon word nie verbeter na Johannes Viljoen nie. Daar is 'n heel pertinente dotjie vir die i, en die van het nie 'n e in nie. Hy het bedoel om te skryf wat hy geskryf het en ons respekteer dit.
- Die woord jongman word uitgeskryf: daardie strepie oor die m beteken dis 'n afkorting.
- Die laaste woord is onontsyferbaar, iets wat hy so baie skryf dat dit net 'n gekrap is. So ses huwelike verder ondertoe het hy bietjie mooier geskryf: die woord is met.
Die volgende reëltjie begin ook met net 'n gekrap, maar die eerste letter is 'n d, het ons al agtergekom.
- Kom ons sê den (="op die").
- Die dag is baie soos 'n onmiskenbare 11 (kyk hoe lyk 1711 op die regterbladsy) behalwe daardie dwarsstrepie. Dit maak van die tweede syfer 'n 4. Weereens sou die ekspert weet, maar jy kry jou wysheid van die ander 4'e op die foto.
- 'n Strepie oor Aug, ons skryf dus die afkorting uit.
- Die res van die reël is maklik: ons skryf weereens die afkorting uit, aangedui deur daardie vlieër agteraan die d. By die volgende huwelik sien ons hierdie scriba skryf dogter, nie dochter nie.
En leer iets uit daardie r in Catharina; ons maak die krulletjie deesdae regs, en as jy vergeet hulle sit dit links, gaan jy foute vorentoe maak.
Laaste twee reëls.
- Ons gaan ditto net so hou, maar as jy net hierdie een huwelik wou transkribeer, sou jy dit weglaat maar die datum vanaf die vorige reëls insit.
- Die kolletjies agter Janse lyk na inkspatsels, ignoreer hulle.
- Daar is 'n lang s en 'n snaakse penslag bokant die u. Dis om te wys dit nie 'n n nie, en in die geval van hierdie scriba is so iets nodig: kyk na die n in Janse, presies dieselfde.
- Ons ekspert aarsel bietjie by Aaltie; uit ander bronne weet hy sy is gewoonlik Aaltje en ons het die diskresie om in gevalle van twyfel die meer waarskynlike keuse te maak, maar dan kyk hy na die ander j's en besluit daar is nie twyfel nie.
- 'n Mens sou kon argumenteer dat vande aanmekaar geskryf is, maar met hierdie d's is daar genoeg twyfel dat ons dit ter wille van leesbaarheid mag skei.
Een laaste verfyning voor ons begin tik: elders op die foto staan die datum voor die bruidegom se naam. Hier is nie plek daarvoor nie; die jaar is in die pad. Maar die scriba het so 'n kronkelstreep gemaak wat ons kan laat beteken die datum moet opskuif.
|
Die familiebybel van Allert van Zijl
- Daar is merkies bo elke 'u', wat ons volgens voorskrif ignoreer.
- Byna elke woord begin met hoofletters; ons gaan dit net met die eerste woord van elke sin en die name doen. In daardie jare was maande nog name, soos steeds in Afrikaans, en ons volg dus nie die moderne Nederlandse gebruik hier nie.
- Die begin van die naam van die kerk is deur die een of ander filistyn se kartelskêr afgeknip, maar elders op die bladsy staan dit ongeskonde.
- Die 't' in die predikant se naam se dwarsstrepie is byna onsigbaar, so ook die strepies op die 'y'. Ons hoef te wroeg daaroor of hulle daar is of nie: die riglyne laat ons toe om hulle te verskaf indien nodig.
- Ons lol nie om die agtervoegsels na die getalle boskrifte te maak nie. Trouens, ons alfabet laat dit nie toe nie.
- Die scriba maak 'n swierige slangetjie wat ons met 'n punt weergee. Die tweede een is duidelik aan die einde van 'n sin en besweer enige twyfel wat ons gehad het of die eerste dalk 'n komma moet wees.
- Die lang S in 'Visser' word 'n gewone s.
- Ek gaan dit tog weer së: ons maak nie Coetzee van Koetzee en Goldbach van Goltbag nie.
|
Die huweliksboek van Wynberg
Hierdie huweliksboek is nie 'n huweliksregister nie, en die transkripsie moet vergesel wees van daardie inligting, want dit is ongewoon. Ons transkribeer dus eers die titelblad.
Dit lyk maklik genoeg, maar ons bestee tog 'n minuut of twee daaraan om mooi te kyk wat ons voor ons het, en hoe dit verskil van ander bronne.
- 'n Gedeelte van die brondokument is gedruk. Geen transkripsieprobleme daar nie, ons kan dit literatim weergee, maar ons moet 'n tipografiese konvensie aanwend om die onderskeid te maak, soos byvoorbeeld om die gedrukte dele in gewone letters en die handgeskrewe dele kursief weer te gee.
- Dis nog 60 jaar later, ongeveer halfpad tussen die tyd toe die Hollanders uit die Kaap weg is en die Genootskap van Regte Afrikaners gestig is. Die Nederlandse gebruike[4] word dus reeds beïnvloed deur, aan die een kant die Engelse voorskrifte van die staat, en aan die ander die toenemende skryf-soos-jy-praat van die publiek.
- Ons let op dat 'n gewone 'Y' gedruk is op 'n plek waar die Nederlanders 'n 'IJ' sou gebruik, en dat ds Faure nie meer 'n tekentjie op sy 'u' sit nie. Dit is voldoende rede om ook nie die 'y' in sy handskrif 'n 'ij' te maak nie, iets wat ons in ouer tekste wel sou doen.
- Die hooggeleerde ds Faure se Nederlands is nogtans meer pedanties as die klerk wat Allert van Zijl se familiebybel volgeskryf het: "den 25sten April" teenoor "den 25ste December". Selfs Nederlanders is nie altyd so korrek nie. Ons gaan beslis nie nou terug en verbeter die verbuiging in die transkripsie van die familiebybel nie!
- Nou nie ons hoofsaak nie — maar dis interessant dat dit nog nie die NG Kerk was nie. Daardie benaming het eers in 1842 in gebruik gekom en is eers in 1962 algemeen gebruik.[5]
|
Die bladsy wat vir die Lauries ter sake is, het min probleme van interpretasie, maar kom nogtans met sy eie lastighede.
- Daar is talle kolomme met hofies wat nie noodwendig intuïtief vanselfsprekend is nie. Die ideale formaat sou iets wees wat vir rye en kolomme bedoel is, soos Excel. In 'n vorm wat slegs rye maklik toelaat, sal ons moet improviseer. Die oplossing wat hier gebruik word, is om indentering te gebruik om aan te dui dat daar op dieselfde reël voortgegaan is, en die hofies te herhaal. Dit is uiteraard nie die enigste moontlikheid nie. Die belangrike ding is dat daar nie twyfel moet wees oor watter handgeskrewe inligting by watter hofie pas nie.
- As hierdie inligting op sy eie versprei gaan word, moet 'n sekere hoeveelheid konteks verskaf word. Ons doen dit deur 'n inleidende paragraaf redaksionele teks waarin die aangehaalde dele op dieselfde manier as in die transkripsie onderskei word.
- Die naam van die bruid beslaan meer as een reël in die handskrif, maar duidelik net vanweë die lengte daarvan, en aangesien ons reeds 'n komplekse uitleg het, maak ons nie ook so nie. Die geboorteplekke wat in kleiner skrif na die naam aangegee is, word om verwarring te voorkom met 'n kommapunt geskei.
- Ons skryf "DiepRivier" soos in die oorspronklike, en maak dit nie los nie, ook nie heeltemal een woord soos ons vandag sou doen nie, want dit dokumenteer die oorgang in die skryfwyse van die pleknaam.
- Ons hou "jonge dochter" as twee woorde. Daar is geen konsekwenteid op die bladsy daaroor nie, en dus geen rede om dit aanmekaar te skryf nie.
- Ons skryf die afkorting uit as Gereformeerd.
- Plekke waar niks geskryf is nie, word weggelaat, behalwe as ons wil benadruk dat daar inderdaad nie iets geskryf is.
- Dirk Laurie is ds Faure ewig dankbaar dat hy so 'n mooi duidelike 'r' maak en dat daar in hierdie eerste en belangrikste bron van die Laurie-familie dus geen twyfel oor die spelling van die van is nie.
- Die letter 'u' is nie gemerk nie. Die gebruik was aan die uitsterf. Ouer scribas uit daardie tyd, met 'n Nederlandse opvoeding, het dit nog gedoen, maar ds Faure is in 1811 gebore en het onder die Engelse bewind skoolgegaan.
|
Doopregister van Piketberg 1896
Hierdie item is nog 45 jaar later as die vorige. Die oorspronklike foto kan maklik oorgesien word, want die betrokke doopboek verskyn op FamilySearch onder die hofie "Memberships" en nie onder "Baptisms" nie.
- Hier is ook sprake van kolomme, en ook inligting wat nie by die inskrywing self staan. Dieselfde soort oplossing as in die vorige voorbeeld word ingespan.
- Die letterkombinasie 'ur' in hierdie handskrifstyl, met die sterk verbindingstreep na die 'u', kan maklik deur iemand wat literatim transkribeer vir 'wr' aangesien word. Dit kan na albei kante gedebatteer word. In so 'n geval mag ons buitekennis gebruik, naamlik dat die vader 'n seun is van dieselfde Robert Naylor Laurie van die vorige inskrywing en dat die van konsekwent deur alle afstammelinge met 'n 'u' gespel is. Dit is belangrik vir genealogiese akkuratheid, want die van Lawrie ('n wisselvorm wat reeds eeue gelede in Skotland ontstaan het) kom ook onder Afrikaanssprekendes voor, waarvan party selfs ook in Piketberg gewoon het.
- Hierdie scriba se afkortingstrepie is 'n swierige skuinsstreep, maar hy is nie konsekwent daarmee nie. Ons skryf alle afkortings wat ons kan ontsyfer, uit. Let ook op die dubbel-s in Visser word nie meer met verskillende lettervorme geskryf nie.
- Met die hele bladsy voor ons, weet ons die '116' is 'n volgnommer. Uit konteks gehaal is dit nie so vanselfsprekend nie. Ons help die leser met '[nommer]', waar die vierkantige hakies 'n redaksionele ingreep aandui.
- Alhoewel ons weet die tweede getuie is 'n halfsuster van die vader van die kind, en dat sy in alle waarskynlikheid na haar ma vernoem is, verbeter ons nie die spelling van haar tweede naam nie.
Doopregister van Piketberg, 1896, p.35.
|
Dis nie altyd so maklik nie
Ek gaan dit nie bespreek nie, maar hier is die soort ding wat ook oor jou pad kom as jy eers begin transkribeer. Stukkies van die linkerbladsy is afgeskeur, waterskade maak die onderste regtehoek byna onleesbaar, en as jy die volgnommers vergelyk, sien jy die regterbladsy sluit nie aan by die linkerbladsy nie. Ek meen die laaste twee name op die linkerbladsy is Maria Magdalena Hanekom en Wilhelmina Sophia de Lint. Maar wie weet?
Aanpassings vir primêre bronne op WikiTree
Indien jou transkripsie iets bevat wat bepalend kan wees vir die inligting wat WikiTree vertoon wanneer 'n profiel oopgemaak word, is dit bedagsaam om dit in vet letters weer te gee. Dit stel mense wie se gespesialiseerde taak dit is om die korrektheid van die data te kontroleer, in staat om met een oogopslag te sien uit watter bron die gegewens geneem is.
As die transkripsie hierbo op die kind se profiel staan, sou ons dit só doen:
Doopregister van Piketberg, 1896, p.35.
|
Ons sou nie die ouers se name ook vet maak nie: al wat WikiTree in die databasis bêre, is die WikiTree ID van die ouers, en hulle name vertoon soos dit op hulle eie profiele staan.
As die transkripsie hierbo egter op sy ousus se profiel staan, sou ons dit só doen:
Doopregister van Piketberg, 1896, p.35.
|
Die leser kan dan self die prentjie invul van hoe trots die 14-jarige sussie (wat klaarblyklik die babatjie ingedra het) moes gevoel het toe oom koster haar naam in die doopboek skryf.
- ↑ Die verskil is dat Windows 1252 party van die onsigbares vir sy eie doeleinders aanwend.
- ↑ Dus nie een wat die gevoelens van die leser probeer spaar nie :-) en beslis niks te doen met diplomate nie.
- ↑ Die boekie Richtlijnen voor het uitgeven van historische bescheiden waarna daar verwys word, kan gratis in sy geheel afgelaai word en is die aandag werd.
- ↑ Nederland en Vlaandere het self maar eers in 1863 'n eenvormige spelling gekry, wat uit die staanspoor ongewild in Suid-Afrika was. Die spelling is eers in 1955 hersien: sien die pamfletjie De Nieuwe Spelling deur G.G. van der Keuken.
- ↑ Sien die artikel Die naam "Nederduitse Gereformeerde Kerk" deur prof. P.J. Strauss.
- Login to request to the join the Trusted List so that you can edit and add images.
- Private Messages: Contact the Profile Managers privately: Susanna Hendrina Elisa de Bruyn, Ronel Olivier, Philip van der Walt, and South African Roots Project WikiTree. (Best when privacy is an issue.)
- Public Comments: Login to post. (Best for messages specifically directed to those editing this profile. Limit 20 per day.)
- Public Q&A: These will appear above and in the Genealogist-to-Genealogist (G2G) Forum. (Best for anything directed to the wider genealogy community.)
Can you add this category Category: Suid Afrikaanse Portaal Project (between the category [[ ]] brackets) to the top of this page ? It will make this page part of and easy to find at the Category page of the Suid Afrikaanse Portaal. :) (creates sort of an Index)
Thanks for all the hard work, it's going to be a great help for everyone (including me ;) ) Never to old to learn eeh.
Bea
Wat dink jy, kan ons kolomme met die verskillende letters maak en dan verwys na die toepaslikke teks?