Die Duitse oorsprong van die familienaam Geiser oftewel Geyser dui op die snw "Geis" ("Mittelhochdeutsch") wat as bokooi (in Nederlands "geit") of gans in Afikaans vertaal kan word. M.a.w. 'n "Geiser" is dan iemand wat bokooie of ganse besit en versorg of daarmee boer.
Die algehele onvermoê om 'n doopdatum vir die SA stamvader in die aangeduide bovermelde oorde, binne bestek van die mees-waarskynlike periode, in die Heilge Romeinse Ryk (Duitsland) op te spoor, het die vermoede laat ontstaan dat Heinrich Geiser dalk oorspronklik Doopsgesind ("Taufer") kon wees, voordat hy as matroos na die Kaap die Goeie Hoop verhuis het. Die Rynland, Oos-Friesland en Wesfale streke van die Heilige Romeinse Ryk was sedert die Kerkhervorming van die sestiende eeu 'n toevlug vir Doopsgesindes uit Nederland (Mennoniete) en het die oortuiging van 'n "Christelike (volwasse) doop" teenoor die kinderdoop, ook aansienlike veld gewen in daardie streke onder die plaaslike Duitssprekende bevolking. Desnieteenstaande het Doopsgesindes later van tyd ook geweldige teenkanting en vervolging van hulle Duitse vorste ondervind wat tot grootskaalse verhuising na die Nuwe Wêreld (bv die Amish van Pennsylvania in die VSA) en verstrooiȉng elders in Pole en die Russiese Ryk gelei het..
Aangesien slegs lidmate van die Nederduits Gereformeerde/Hervormde Kerk deur die VOC aan die Kaap toegelaat was (tot en met die stigting in 1779 van die Evangelies Lutherse Kerk in Strandstraat, Kaapstad), sou Heinrich geen ander keuse gehad het as om sy geloofsoortuiging te verander. Hy is dan ook later met Judith de Wit in die NG Kerk in Kaapstad in die eg verbind en doop sy kinders aldaar. Daar is talle soortgelyke gevalle onder ons SA stamvaders bv Ignacio Ferreira die Rooms-Katolieke Portugese strandeling ensomeer.
Leon Endemann